settings icon
share icon
Vraag

Waarom laat God natuurrampe, dit is aardbewings, orkane, en tsunami’s toe?

Antwoord


Waarom laat God aardbewings, tornado’s, orkane, tsunami’s, tifone, siklone, modderstortings, en ander natuurrampe toe? Die laat 2004 tsunami tragedie in Asië, Orkaan Katrina in 2005 in die suid-oostelike Verenigde State, en die 2008 sikloon in Myanmar het veroorsaak dat baie mense God se goedheid bevraagteken. Dit is sorgbarend dat natuurrampe dikwels “dade van God” genoem word, terwyl geen “eer” aan God gegee word vir jare, dekades, of selfs eeue van aangename weer nie. God het die heelal en die natuurwette geskep (Genesis 1:1). Die meeste natuurrampe is die gevolge van hierdie natuurwette. Orkane, tifone, en tornado’s is die gevolg van die botsing van uiteenlopende weerspatrone. Aardbewings is die gevolg van die verskuiwing van die aardkors. ‘n Tsunami word deur ‘n aardbewing onder die see veroorsaak.

Die Bybel verklaar dat Jesus Christus die natuur instand hou (Kolossense 1:16-17). Kan God natuurrampe voorkom? Beslis! Beïnvloed God soms die weer? Ja, soos ons sien in Deuteronomium 11:17 en Jakobus 5:17. Numeri 16:30-34 wys vir ons dat God somtyds natuurrampe veroorsaak as ‘n veroordeling teen sonde. Die boek Openbaring beskryf baie gebeure wat definitief as natuurrampe beskryf kan word (Openbaring hoofstukke 6, 8, en 16). Is elke natuurramp ‘n straf van God? Beslis nie.

Net soos wat God bose mense toelaat om bose dade te pleeg, laat God die aarde toe om die gevolge van sonde op die skepping te reflekteer. Romeine 8:19-21 sê vir ons, “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe—nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het—in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.” Die sondeval van die mens het alles geaffekteer, ook die wêreld waarin ons woon. Alles in die skepping is onderhewig aan “nietigheid” en “verganklikheid.” Sonde is die uiteindelike oorsaak van natuurrampe net soos dit ook die oorsaak is van dood, siekte, en lyding.

Ons kan verstaan waarom natuurrampe plaasvind. Wat ons nie verstaan nie is waarom God toelaat dat dit gebeur. Waarom het God toegelaat dat die tsunami meer as 225,000 mense in Asië dood maak? Waarom het God toegelaat dat Orkaan Katrina die huise van duisende mense vernietig het? Een ding is seker, sulke gebeure skud ons vertroue in hierdie lewe en dwing ons om aan die ewigheid te dink. Kerke is gewoonlik vol na rampe wanneer mense besef hoe nietig hulle lewens werklik is en hoe lewe in ‘n oogwink weggeneem kan word. Wat ons weet is dit: God is goed! Baie verbasende wonderwerke gebeur gedurende die verloop van natuurrampe wat selfs groter lewensverlies voorkom. Natuurrampe veroorsaak dat miljoene mense die prioriteite in hulle lewens herevalueer. Honderde miljoene dollars in hulp word aan die slagoffers voorsien. Christen bedienings het die geleentheid om te help, te bedien, te beraad, te bid, en mense te lei tot verlossing in Christus! God kan, en bring, baie goedheid uit verskriklike tragedies (Romeine 8:28).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom laat God natuurrampe, dit is aardbewings, orkane, en tsunami’s toe?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries