settings icon
share icon
Vraag

Hoekom sal God vir Satan vrylaat na die 1 000-jarige ryk?

Antwoord


Openbaring 20:7-10, “Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” In hierdie gedeelte voorspel die Bybel een finale rebellie, deur die duiwel aangeblaas, en die beslissende oorwinning oor die rebellie.

Aan die begin van die millennium sal slegs gelowiges oorlewe (Openbaring 19:17-21) – hulle wat lewe deur die verdrukking en hulle wat saam met die Here sal terugkeer met Sy wederkoms. Dit sal ‘n tyd van vrede wees, sonder gelyke in die geskiedenis (Jes 2:4; Joël 3:10; Miga 4:3). Jesus sal op die troon van Dawid sit en regeer oor Sy hele skepping. Jesus sal seker maak dat elkeen se behoefte vervul word en Hy sal nie die sonde duld, wat so algemeen voorkom in vandag se samelewing nie (Ps 2:7-12; Openbaring 2:26-29; 19:11-16). Ons kan ons net voorstel hoe so ‘n tyd van “hemel op aarde” sal wees.

Dit is waarskynlik die gelowiges wat deur die verdrukking sterflik sal wees en die aarde gedurende die duisendjarige ryk sal herbewoon. Sonder die vernietiging van sonde wat sy tol eis, kan ons die enorme populasiegroei gedurende die duisendjarige ryk voorstel. Almal wat gebore word gedurende die millennium sal die voordele en seëninge geniet van Christus se regering op aarde. Hulle sal egter steeds gebore wees met ‘n sondige natuur en moet vryelik berou toon en bekeer en die evangelie glo en persoonlik vir Christus kies as Verlosser en Here.

Teen die einde van die millennium, sal Satan uit die bodemlose put losgelaat word. Hy sal aanvanklik ‘n groot menigte mislei om hom te volg in een finale rebellie. Dit wil voorkom dat hoe verder die verdrukking in die geskiedenis op die agtergrond raak, hoe meer sal die mensdom hul vredevolle lewens as vanselfsprekend aanvaar; sommige mag selfs twyfel ervaar oor die goedheid van God. Alhoewel die getal wat met Satan saam rebelleer, so baie soos die “sand van die see” (Openbaring 20:8) sal wees – mag hulle steeds ‘n minderheid wees in vergelyking met dié wat nie rebelleer nie.

Aangesien God weet watter moeilikheid Satan sal veroorsaak (weer) in die wêreld, hoekom laat Hy hom vry? Die Skrif gee nie ‘n definitiewe antwoord nie. Een van die redes egter mag wees om vir die mensdom ‘n finale toets te gee. Vir 1 000 jaar sal die bedrieër opgesluit wees en die meeste sterflikes op aarde sal nooit ‘n ewige versoeking beleef het, vanuit die geestessfeer nie. God het die mensdom met ‘n vrye keuse geskep en Hy laat daardie keuse toe om getoets te word. Die toekomstige “duisendjariges” – hulle wat gedurende die duisendjarige ryk gebore word – sal steeds ‘n bewustelike besluit moet maak om vir Christus of Satan te volg. God se vrylating van die duiwel sal ‘n geleentheid wees vir hulle om te kies.

‘n Ander moontlike rede vir God om Satan vry te laat, is om die omvang van die sondige natuur te demonstreer, inherent in die hele mensdom (sien Jer 17:9). Selfs na 1 000 jaar van ‘n goddelike utopia op aarde, sal die mens ‘n verborge kapasiteit koester om te rebelleer. ‘n Ander rede vir Satan se vrylating mag wees om ons te leer weereens hoe maklik ons verlei raak. Netsoos Adam en Eva hul Eden verwerp het, as gevolg van ‘n paar woorde van die bedrieër, so sal menigtes van Adam en Eva se nageslagte ook verlei word. Ons is vleeslik en en geneig tot misleiding.

Deur Satan vry te laat uit die put, mag God ook bedoel om iets oor Sy eie natuur te openbaar. Vir 1 000 jaar, sal Sy genade en barmhartigheid aanhoudend gewys word, maar teen die einde van daardie tyd, sal Hy “zero” geduld hê vir rebellie. Sy oordeel sal val en Hy sal geen “tweede kanse” bied vir hulle wat kies om te rebelleer nie.

God se vrylating van Satan teen die einde van die duisend jaar sal ook wys dat Satan altyd die vyand van die mensdom gewees het en altyd sál wees. Soos God Sy liefde op ons uitgestort het, het Satan vir ons ‘n spesiale haatdraendheid. Van ewigheid af, sedert Satan se val (Jes 14, Eseg 28) was hy die teenstander van gelowiges en hy word ook gepas beskryf as die uitnemende bedrieër van die mensdom (Joh 8:44). Al wat hy vir die mens kan belowe, is die dood en vernietiging (Joh 10:10). Satan word ook in Openbaring 20 getoon as ‘n ware oorwonne vyand en sy uiteindelike vonnis is gewaarborg, saam met almal wat hom volg. Satan is ‘n geskape wese wat magteloos staan voor God.

Hoekom sal God Satan vrylaat teen die end van die duisend jaar? Ons kan net sowel vir God vra waarom Hy vir Satan énige vryheid gee, selfs nou. Die antwoord moet uiteindelik gevind word in God se soewereine plan om die volheid van Sy heerlikheid te openbaar. God se soewereiniteit oorspan selfs vir Satan en God is by magte om enigiets te gebruik – selfs Satan se bose handelinge – om Sy heilige plan te vervolmaak (sien 1 Tim 1:20 3 en 1 Kor 5:5).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom sal God vir Satan vrylaat na die 1 000-jarige ryk?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries