settings icon
share icon
Vraag

Is Jesus God in die vlees? Hoekom is dit belangrik dat Jesus God in die vlees is?

Antwoord


Nadat bevrugting deur die Heilige Gees in die baarmoeder van die maagd Maria begin is (Luk 1:26-38), is die ware identiteit van Jesus Christus nog alle tye deur skeptici bevraagteken. Dit het begin met Maria se verloofde, Josef, wat bang was om met haar te trou, toe sy dit openbaar gemaak het dat sy swanger was (Matt 1:18-24). Hy het haar as sy vrou geneem eers nadat die engel bevestig het dat die kind wat sy gedra het, die Seun van God was.

Honderde jare voor Christus se geboorte het die profeet Jesaja die koms van God se Seun voorspel: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors” (Jes 9:5). Toe die engel met Josef gepraat het en die naderende geboorte van Jesus aangekondig het, het hy verwys na Jesaja se profesie: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem” (wat beteken ‘God by ons’) (Matt 1:23). Dit het nie beteken hulle moes die baba Immanuel noem nie; dit het beteken “God by ons” was die baba se identiteit. Jesus was God wat in die vlees gekom het om by die mens te woon.

Jesus Self het die spekulasie rakende Sy identiteit verstaan. Hy het vir Sy dissipels gevra, “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” (Matt 16:13; Mark 8:27). Die antwoorde het verskil, soos dit vandag nog verskil. Toe het Jesus ‘n dringender vraag gevra: “Maar julle,” het Hy gevra, “wie sê julle, is Ek?” (Matt 16:15). Petrus het die regte antwoord gegee: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matt 16:16). Jesus het die waarheid van Petrus se antwoord bevestig en het belowe dat, gegrond op daardie waarheid, Hy Sy kerk sou bou (Matt 16:18).

Die ware natuur en identiteit van Jesus Christus het ewigheidsbetekenis. Elke persoon moet die vraag beantwoord wat Jesus vir Sy dissipels gevra het: “wie, sê julle, is Ek?”

Hy het aan ons die korrekte antwoord op baie maniere gegee. In Joh 14:9-10 het Jesus gesê, “Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader?’ Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en Sy werke doen.”

Die Bybel is duidelik oor die goddelike natuur van die Here Jesus Christus (Joh 1:1-14). Fil 2:6-7 sê dat, alhoewel Jesus “in die gestalte van God was, het Sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Kol 2:9 sê, “In Hom is die volle wese van God beliggaam.”

Jesus is volledig God en volledig mens en die feit van Sy inkarnasie is van uiterste belang. Hy het ‘n menslike lewe geleef, maar het nie ‘n sondige natuur soos ons gehad nie. Hy was versoek, maar het nooit gesondig nie (Hebr 2:14-18; 4:15). Sonde het in die wêreld ontstaan as gevolg van Adam en Adam se sondige natuur word oorgedra aan elke baba wat in die wêreld gebore word (Rom 5:12) – behalwe aan Jesus. Omdat Jesus nie ‘n mens as vader gehad het nie, het Hy nie ‘n sondige natuur oorgeërf nie. Hy het die goddelike natuur vanaf Sy hemelse Vader ontvang.

Jesus moes al die vereistes van ‘n heilige God hê, voordat Hy ‘n aanvaarbare offer vir ons sondes kon wees (Joh 8:29; Hebr 9:14). Hy moes meer as 300 profesieë vervul aangaande die Messias, wat God, deur die profete bekend gemaak het (Matt 4:13-14; Luk 22:37; Jes 53; Miga 5:2).

Sedert die val van die mens (Gen 3:21-23), was die enigste manier om met God reg te maak, die bloed van ‘n onskuldige offerande (Lev 9:2; Numeri 28:19; Deut 15:21; Hebr 9:22). Jesus was die finale, volmaakte offerande wat God se wraak teenoor sonde bevredig het (Hebr 10:14). Sy goddelike natuur het Hom geskik gemaak vir die werk van die Verlosser; Sy menslike liggaam het Hom toegelaat om die bloed te stort om te red. Geen menslike wese met ‘n sondige natuur kon so ‘n skuld betaal nie. Geeneen kon aan die vereistes voldoen om die offerande vir die sonde van die hele wêreld te word nie (Matt 26:28; 1 Joh 2:2). Indien Jesus ‘n goeie man was soos sommige beweer, dan het Hy ‘n sondige natuur en was nie volmaak nie. In daardie geval, sou Sy dood en opstanding geen krag hê om enigeen te red nie.

Omdat Jesus God in die vlees was, kon slegs Hy die skuld betaal wat ons aan God verskuldig was. Sy oorwinning oor die dood en die graf het die oorwinning behaal vir elkeen wat hul vertroue in Hom geplaas het (Joh 1:12; 1 Kor 15:3-4, 17).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is Jesus God in die vlees? Hoekom is dit belangrik dat Jesus God in die vlees is?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries