settings icon
share icon
Vraag

Hoekom wil God nie geamputeerdes genees nie?

Antwoord


Sommige gebruik hierdie vraag in 'n poging om die bestaan van God te weerlê. Daar is 'n populêre anti-Christen webblad wat gewy word aan hierdie vraag "Hoekom wil God nie geamputeerdes genees nie?" argument:http://www.whywontdodhealamputees.com. Indien God almagtig is en indien Jesus belowe het om alles te doen wat ons vra (of so gaan die redenasie), waarom wil God dan nooit geamputeerdes genees, as ons vir hulle bid nie? Hoekom genees God slagoffers van kanker en diabetes, byvoorbeeld, tog laat Hy nooit 'n geamputeerde ledemaat herlewe nie? Die feit dat 'n geamputeerde so bly, is 'n "bewys" aan sommige dat God nie bestaan nie, dat gebed nutteloos is, dat sogenaamde genesings toeval is en dat godsdiens 'n mite is.

Die bogenoemde argument word gewoonlik op 'n weldeurdagte wyse aangebied, met 'n liberale besprinkeling van die Skrif om dit al hoe meer geloofwaardig te laat lyk. Tog is dit 'n argument gebaseer op 'n verkeerde siening van God en 'n waninterpretasie van die Skrif. Ten minste 7 vals gevolgtrekkings word uit die argument "hoekom God nie geamputeerdes genees nie" gemaak:

Aanname 1: God het nooit 'n geamputeerde genees nie. Wie kan sê in die geskiedenis van die wêreld, dat God nooit 'n ledemaat genees het nie? Om te sê, "Ek het geen empiriese bewys dat ledemate kan herstel nie; dus geen geamputeerde is ooit in die wêreldgeskiedenis genees nie" is dieselfde as om te sê "Ek het geen empiriese bewys dat hase op my werf lewe nie; dus het geen haas ooit op hierdie grond geleef in die wêreld se geskiedenis nie." Dit is 'n gevolgtrekking wat eenvoudig nie gemaak kan word nie. Daarenteen het ons die historiese geskrewe Woord dat Jesus melaatses genees het, van wie sommige vingers of tone of dele van hul gesig verloor het. In elke geval is die melaatses volkome genees (Mark 1:40-42; luk 17:12-14). Ook is daar die man met die verdorde hand (Matt 12:9-13) en die herstel van Malgus se afgekapte oor (Luk 22:50-51), om nie te praat van die feit dat Jesus die dooies opgewek het nie (Matt 11:5; Joh 11), wat sonder twyfel baie moeiliker sou wees as om 'm ledemaat te herstel.

Aanname 2: God se goedheid en liefde het van Hom gevra om almal te genees. Siekte, lyding en pyn is die resultaat van ons lewe in 'n gevalle wêreld – vervloek as gevolg van ons sonde (Gen 3:16-19; Rom 8:20-22). God se goedheid en liefde het Hom beweeg om 'n Verlosser te voorsien om ons van die vloek te bevry (1 Joh 4:9-10), maar ons uiteindelike verlossing sal nie realiseer totdat God 'n finale einde aan sonde in die wêreld gemaak het nie. Tot daardie tyd toe is ons steeds onderwerp aan fisiese dood.

Indien God se liefde Hom dring om elke siekte en ongesteldheid te genees, dan sou niemand ooit gesterf het nie – omdat "liefde" elkeen in volmaakte gesondheid sou hou. Die Bybelse definisie van liefde is ''n opoffering wat die beste is vir die geliefde een." Wat die beste is vir ons, is nie altyd fisiese heling nie. Paulus, die apostel het gebid dat die "doring in die vlees" verwyder moet word, maar God het "Nee" gesê, omdat Hy wou gehad het dat Paulus moes verstaan dat hy nie nodig gehad het om fisies gesond te wees, om die deurlopende genade van God te ervaar nie. Deur die ondervinding het Paulus gegroei in nederigheid en in die verstaan van God se genade en krag (2 Kor 12:7-10).

Die getuienis van Joni Eareckson Tada gee 'n moderne voorbeeld van wat God kan doen deur fisiese tragedie. As 'n tiener het Joni 'n duikongeluk beleef wat haar in 'n kwadrupleeg verander het. In haar boek "Joni" vertel sy hoedat sy menige geloofsgenesers besoek het en wat ernstig vir genesing gebid het, wat nooit gebeur het nie. Uiteindelik het sy haar toestand aanvaar as God se wil en sy skrywe, "Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer is ek oortuig dat God nie almal wil genees nie. Hy gebruik ons probleme tot Sy eer en tot ons beswil" (p 190).

Aanname 3: God doen nog steeds wonderwerke soos Hy in die verlede gedoen het. Gedurende die duisende jare van geskiedenis wat deur die Bybel gedek word, vind ons slegs vier kort periodes waarin wonderwerke plaasgevind het (in die periode van Eksodus, die tyd van die profete Elia en Elisa, die bediening van Jesus en die tyd van die apostels). Terwyl wonderwerke plaasgevind het regdeur die Bybel, was dit slegs gedurende hierdie vier periodes dat dit algemeen was.

Die tyd van die apostels het geëindig met die skryf van Openbaring en die dood van Johannes. Dit beteken dat wonderwerke nou min voorkom. Enige bediening wat sê dat 'n nuwe apostel die leiding neem of wat voorgee om die vermoë te besit om te genees, verlei mense. "Geloofsgenesers" speel met die emosie en gebruik die krag om voor te gee dat onkontroleerbare "genesings" gebeur. Hiermee word nie gesê dat God nie meer mense genees nie – ons glo dat Hy wel genees – maar nie in die getalle wat sommiges beweer nie.

Ons kyk weer na die storie van Joni Eareckson Tada wat ook die hulp van geloofsgenesers gesoek het. Betreffende die onderwerp van hedendaagse wonderwerke sê sy, "Man's dealing with God in our day and culture is based on His Word rather than 'signs and wonders'" (p 190). Sy genade is genoeg en Sy Woord is vas en seker.

Aanname 4: God is gebind om "ja" te sê op enige gebed in die geloof gebid. Jesus het gesê, "Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in My Naam vra, sal Ek dit doen" (Joh 14:12-14). Sommige het geprobeer om hierdie gedeelte te interpreteer asof Jesus saamstem met alles wat ons vra, maar dit is nie wat Jesus bedoel nie. Let eerstens op dat Jesus met Sy apostels praat en die belofte is vir hulle. Na Jesus se hemelvaart, het die dissipels krag ontvang om wonderwerke te doen, terwyl hulle die evangelie versprei het (Hand 5:12). Tweedens gebruik Jesus twee keer die frase "in My Naam." Dit verwys na die basis vir die dissipels se gebede, maar impliseer ook dat wat hulle ookal bid, in lyn met God se wil moet wees. 'n Selfsugtige gebed byvoorbeeld of een gemotiveer deur hebsug of gulsigheid, is nie volgens God se wil nie en kan nie in Jesus se Naam gebid word nie.

Ons bid in geloof, maar geloof beteken dat ons God vertrou. Ons vertrou Hom om die beste vir ons te doen en te weet wat die beste is. As ons al die Bybelse lering in verband met gebed in ag neem (nie net wat aan die dissipels beloof is nie) leer ons dat God Sy krag kan uitoefen in antwoord op ons gebed of Hy kan ons verras met 'n ander soort aksie. In Sy wysheid doen Hy altyd wat die beste is (Rom 8:28).

Aanname 5: God se toekomstige genesing (by die opstanding) kan nie vergoed vir die aardse lyding nie. Die waarheid is, "die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie" (Rom 8:18). As 'n gelowige 'n ledemaat verloor, het hy God se belofte van toekomstige volkome heling en geloof is "om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie" (Heb 11:1). Jesus het gesê, "Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word" (Matt 18:8). Sy woorde bevestig die relatiewe onbelangrikheid van ons fisiese toestand in hierdie wêreld, in vergelyking met ons ewige toestand. Om die lewe vermink in te gaan (en om dan geheel te word) is oneindig meer werd as om gesond hel toe te gaan (om vir ewig daar te ly).

Aanname 6: God se plan is ondergeskik aan die mens se goedkeuring. Een van die betoë van die argument van "hoekom wil God nie geamputeerdes genees nie" is dat God nie regverdig optree teenoor hulle nie. Tog is die Skrif duidelik dat God volkome regverdig is (Ps 11:7; 2 Tess 1:5-6) en in Sy soewereiniteit skuld Hy aan niemand 'n antwoord nie (Rom 9:20-21). 'n Gelowige het geloof in God se goedheid, selfs as omstandighede dit moeilik maak en dit lyk asof rede weifelend is.

Aanname 7: God bestaan nie. Dit is die onderliggende aanname waarop die hele "hoekom genees God nie geamputeerdes nie"- argument gebaseer is. Diegene wat triomfeer oor hierdie argument, begin met die gevolgtrekking dat God nie bestaan nie en gaan dan voort om hul idee so goed hulle kan, uit te lig. Vir hulle is "godsdiens is 'n mite" 'n uitgemaakte saak. Dit word voorgedoen as 'n logiese afleiding, maar in realiteit is dit die grondslag van die argument.

Die vraag waarom God nie sulke verminkte mense genees nie, is 'n moeilike vraag as vergelyk word met "Kan God 'n klip te groot maak vir Hom om op te tel?" en is ontwerp om nie vir die waarheid te soek nie, maar om geloof in 'n swak lig te stel. Op 'n ander manier gestel, kan dit 'n geldige vraag wees met 'n Bybelse antwoord. Daardie antwoord in kort, sou iets soos die volgende wees: "God kan geamputeerdes genees en wil elkeen van hulle genees wat Christus as Verlosser vertrou. Die genesing sal kom, nie as gevolg van ons wat dit nou aanspreek nie, maar op God se eie tyd, moontlik nog in hierdie lewe, maar definitief in die hemel. Tot op daardie tyd, stap ons in geloof, in vertroue op die God wat ons in Christus vrymaak en belowe om die liggaam op te wek."

'n Persoonlike getuienis:
Ons eerste seun is gebore met 'n tekort aan bene in sy onderbene en in sy voete en hy het net twee tone gehad. Twee dae na sy eerste verjaardag is beide sy voete geamputeer. Ons oorweeg dit nou om 'n kind aan te neem uit China wat 'n soortgelyke operasie benodig. Ek voel God het my gekies om 'n baie spesiale moeder te wees vir hierdie spesiale kinders en ek het geen idee gehad nie, totdat ek oor hierdie onderwerp gelees het hoekom God hulle nie genees nie en dat mense dit as 'n rede gebruik om God se bestaan te betwyfel. As moeder van een kind sonder voete en potensiële ma van 'n ander kind met soortgelyke probleem, het ek dit nooit in daardie lig gesien nie. Ek het eerder Sy roeping op my gesien as 'n spesiale moeder om ander te leer van God se seëninge. Hy roep my ook om vir hierdie kinders die geleentheid te gee om toegevoeg te word by 'n Christenfamilie wat hulle sal leer om die Here op hul spesiale manier lief te hê en te verstaan dat ons alles kan oorkom deur Christus. Sommige mag dit sien as 'n struikelblok; ons vind dit as 'n leerskool en uitdaging. Ons dank Hom ook vir die kennis van dokters vir die nodige operasies en die vervaardiging van prostese wat maak dat my seun en hopelik ook die volgende seun, kan loop, hardloop, spring en lewe tot eer van God in alles. "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is" (Rom 8:28).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom wil God nie geamputeerdes genees nie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries