settings icon
share icon
Vraag

Sal die Heilige Gees ooit ‘n gelowige verlaat?

Antwoord


Eenvoudig gestel, nee, die Heilige Gees sal nooit ‘n ware gelowige verlaat nie. Dit word in baie verskillende gedeeltes van die Nuwe Testament geopenbaar. Byvoorbeeld, Rom 8:9 sê vir ons “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.” Hierdie vers sê baie duidelik dat as iemand nie die inwonende teenwoordigheid van die Heilige gees het nie, dan is daardie persoon nie gered nie. Dus, as die Heilige Gees ‘n gelowige sou verlaat, sou daardie person sy geredde verhouding met Christus verloor. Hierdie is immers in teenstelling met wat die Bybel ons leer, aangaande die ewige sekerheid van Christene. ‘n Ander vers wat ook praat van die permanente inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees in die lewe van gelowiges, is Joh 14:16. Hier stel Jesus dit so dat die Vader ‘n ander Voorspraak of Helper sal stuur “om vir ewig by julle te wees.”

Die feit dat die Heilige Gees nooit ‘n gelowige sal verlaat nie, word ook gesien in Ef 1:13-14, waar gesê word dat gelowiges “beseël” of “geseël” is met die Heilige Gees, “die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons Sy grootheid prys.” Die beeld van “geseël” met die Gees beteken eienaarskap en besitting. God het ewige lewe beloof aan almal wat in Christus glo en as waarborg dat Hy Sy belofte gestand doen, het Hy die Heilige Gees gestuur om in die gelowige te bly, tot die dag van verlossing. Gelykstaande aan die afbetaling van ‘n paaiement op ‘n motor of ‘n huis, het God al die gelowiges voorsien van ‘n afbetaling op hul toekomstige verhouding met Hom, deur die Heilige Gees te stuur om in hulle te woon. Die feit dat alle gelowiges met die Gees geseël is, word ook in 2 Kor 1:22 en Ef 4:30 gesien.

Voorafgaande aan Christus se sterwe, opstanding en hemelvaart, het die Heilige Gees ‘n “kom en gaan” verhouding met mense gehad. Die Heilige Gees het in Koning Saul gewoon, maar weer van hom weggegaan (1 Sam 16:14). In plaas daarvan het die Gees oor Dawid gekom (1 Sam 16:13). Na sy owerspel met Batseba, het Dawid gevrees dat die Heilige Gees van hom weggeneem sou word (Ps 51:13). Die Heilige Gees het Besaleël gevul om hom toe te rus om die ontwerpe wat vir die tabernakel nodig was, te maak (Ex 31:2-5), maar dit is nie beskryf as ‘n permanente verhouding nie. Dit alles het verander na Jesus se hemelvaart. Vanaf Pinksterdag, het die Heilige Gees begin om permanent in gelowiges te bly woon (Hand 2). Die permanente inwoning van die Heilige Gees is die vervulling van God se belofte om altyd by ons te wees en ons nooit te versaak nie.

Alhoewel die Heilige Gees nooit ‘n gelowige sal verlaat nie, is dit moontlik dat ons deur ons sonde die Heilige Gees kan “teenstaan” (1 Tess 5:19) of “bedroef” (Ef 4:30). Sonde het altyd gevolge in ons verhouding met God. Terwyl ons verhouding met God geborge is in Christus, kan sonde in ons lewens wat nie bely is nie, ons gemeenskap (fellowship) met God affekteer en sodoende die Heilige Gees se werking in ons lewens blus. Dit is waarom dit so belangrik is om ons sondes te bely, omdat God “getrou en regverdig’ is en “Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 John 1:9). Dus, al sal die Heilige Gees nooit van ons weggaan nie, kan die voordele en vreugde van Sy teenwoordigheid inderdaad van ons wyk.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Sal die Heilige Gees ooit ‘n gelowige verlaat?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries