settings icon
share icon
Vraag

Wat is die Dawidiese Verbond?

Antwoord


Die Dawidiese Verbond verwys na God se beloftes aan Dawid deur Natan die profeet en word gevind in 2 Sam 7 en later in 1 Kron 17:11-14 en 2 Kron 6:16. Dit is ‘n onvoorwaardelike Verbond gemaak tussen God en Dawid, waardeur God aan Dawid en Israel beloof dat die Messias (Jesus Christus) uit die nageslag van Dawid en die stam van Juda sou kom en ‘n koninkryk sou vestig wat tot in ewigheid sou duur. Die Verbond met Dawid is onvoorwaardelik, omdat God nie enige voorwaardes van gehoorsaamheid ten opsigte van die vervulling daarvan vereis het nie. Die sekerheid van die beloftes wat gemaak is, berus slegs op God se getrouheid en hang geensins af van Dawid of Israel se gehoorsaamheid nie.

Die Verbond van Dawid berus op verskeie sleutelbeloftes wat aan Dawid gemaak is. Eerstens herbevestig God die belofte wat Hy gemaak het aangaande die land in die eerste twee verbonde met Israel (die Abrahamiese en Palestynse verbonde). Hierdie belofte kom voor in 2 Sam 7:10 11, “Ek het ‘n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie.” God belowe dan dat Dawid se seun hom as koning van Israel sal opvolg en dat hierdie seun (Salomo) die tempel sou bou. Hierdie belofte word in 2 Sam 7:12-13 gevind, “Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee. Hy sal vir my Naam ‘n huis bou.”

Maar dan gaan die belofte voort en brei uit: “Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan” (2 Sam 7:13), en “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vasstaan; jou troon sal altyd voortbestaan” (vers 16). Wat begin het as ‘n belofte dat Dawid se seun, Salomo, geseёnd sou wees en die tempel sou bou, het in iets anders oorgegaan – die belofte van ‘n ewige koninkryk. ‘n Ander Seun van Dawid sou regeer vir ewig en ‘n Huis bou wat vir ewig sou bestaan. Dit is ‘n verwysing na die Messias, Jesus Christus, genoem die Seun van Dawid in Matt 21:9.

Die belofte dat Dawid se “huis,” “koninkryk,” en “troon” vir ewig sou bestaan is baie belangrik, omdat dit toon dat die Messias uit die nageslag van Dawid sal kom en dat Hy ‘n koninkryk sal oprig, waar Hy sal regeer. Die Verbond word opgesom met die woorde “huis,” deur die belofte van ‘n vorstehuis in die nageslag van Dawid; “koninkryk,” deur te verwys na mense wat deur ‘n koning regeer sal word; “troon,” met die klem op die outoriteit van die koning se gesag; en “vir ewig,” met die klem op die ewige en onvoorwaardelike natuur van hierdie belofte aan Dawid en Israel.

Ander verwysings aangaande die Dawidiese Verbond word gevind in Jer 23:5; 30:9; Jes 9:7; 11:1; Luk 1:32, 69; Hand 13:34; en Openbaring 3:7.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die Dawidiese Verbond?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries