settings icon
share icon
Vraag

Hoe moet die Christen se beskouing aangaande rykdom lyk?

Antwoord


Die Christen se siening betreffende rykdom moet vanuit die Skrif kom. Daar is baie kere in die Ou Testament dat God Sy mense met rykdom beloon het. Aan Salomo is rykdom belowe en hy het die rykste van alle konings op die aarde geword (1 Kon 3:11-13; 2 Kron 9:22); Dawid het gesê in 1 Kron 29:12, “Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles.” Abraham (Gen 17:20), Jakob (Gen 30-31), Josef (Gen 41), koning Josafat (2 Kron 17:5), en baie ander was met rykdom deur God geseën. Die Jode was egter ‘n uitverkore volk met aardse beloftes en belonings. Aan hulle was ‘n land gegee en al die rykdom daarin.

In die Nuwe Testament is daar ‘n ander standaard gestel. Aan die kerk was daar nooit ‘n land gegee of die belofte van rykdom nie. Ef 1:3 sê, “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” In Matt 13:22 het Christus gepraat oor die saad van God se Woord wat tussen dorings val en “die verleidelikheid van rykdom verstik die Woord en dit bly sonder vrug.” Dit is die eerste verwysing na aardse rykdom in die Nuwe Testament. Dit is duidelik nie ‘n positiewe beeld nie.

Mark 10:23, “Jesus kyk toe na Sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle, ‘Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.’” Dit was nie onmoontlik nie – alle dinge is vir God moontlik – maar dit sal “moeilik” wees. In Luk 16:13 het Jesus oor “mammon” gepraat (die Arabiese woord vir “rykdom”): “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oor hê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.” Weereens verteenwoordig Jesus se woorde rykdom as ‘n negatiewe invloed op geestelikheid en een wat ons van God af weg hou.

God praat van die ware rykdom wat Hy vandag vir ons bring in Rom 2:4: “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur Sy goedheid tot bekering wil lei nie?” Hierdie is die rykdom wat die ewige lewe bring. In Rom 9:23: “So sou Hy ook die rykdom van Sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van Sy ontferming, die mense wat Hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het. En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het.” Ook Ef 1:7, 8: “Deur die bloed van Sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al Sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.” Deur na God te verwys as Hy wat genadig is, prys Paulus God in Rom 11:33, “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele, hoe onnaspeurlik Sy weë! Die klem wat die Nuwe Testament plaas, is God se rykdom in ons: Ef 1:18b, “dat julle kan weet watter hoop Sy roeping inhou en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het.” God wil eintlik spog met Sy rykdom in ons in die hemel: “Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot Sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het” (Ef 2:6-7).

Die rykdom wat God vir ons wil hê: “Ek bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word” (Ef 3:16). Die wonderlikste vers vir Nuwe Testamentiese gelowiges betreffende rykdom is Fil 4:19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens Sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus.” Hierdie verklaring is deur Paulus geskryf, omdat die Filippyne offergawes as geskenke gestuur het om in sy behoeftes te voorsien.

1 Tim 6:17 gee ‘n waarskuwing aan die rykes: “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” Jak 5:1-3 gee ons ‘n ander waarskuwing oor rykdom wat verkeerdelik verkry is: “En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur. Julle maak skatte bymekaar en dit terwyl dit die laaste dae is.” Die laaste keer dat rykdom in die Bybel genoem word is in Openbaring 18:17, waar van die groot verwoesting van Babilon gepraat word: “In een oomblik is soveel rykdom verwoes!”

Om saam te vat, aan Israel was aardse beloftes en belonings gemaak as God se uitverkore volk op aarde. God het baie illustrasies en voorbeelde en waarhede deur hulle gegee. Baie mense begeer hul seëninge, maar nie hul vervloekinge nie. Tog, soos die openbarings voortgaan, het God deur Jesus Christus ‘n voortrefliker bediening: “Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is” (Hebr 8:6).

God veroordeel niemand wat ryk is nie. Rykdom kom na mense vanuit verskeie bronne, maar Hy gee ernstige waarskuwings aan hulle wat méér daarna soek as wat hulle na God soek en méér hul vertroue daarin plaas as in God. Sy grootste begeerte is dat ons ons harte op die dinge daarbo moet plaas, eerder as op aarde. Dit klink dalk baie hoog en onbereikbaar, maar Paulus het geskrywe, “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil 4:13). Die geheim is om Christus as Verlosser te ken en toe te laat dat die Heilige Gees ons gedagtes en harte vernuwe: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe “(Rom 12:1-2).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe moet die Christen se beskouing aangaande rykdom lyk?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries