settings icon
share icon
Vraag

Behoort Christene verdraagsaam te wees teenoor ander mense se godsdienstige oortuigings?

Antwoord


In ons tyd van “verdraagsaamheid”, word sedelike relativisme voorgehou as die vernaamste deug. Elke filosofie, idee, en geloofsoortuiging het eweveel meriete, sê die relativis, en verdien gelyke respek. Diegene wat een geloofsoortuiging bo ‘n ander verkies of – selfs erger – beweer dat hulle kennis het van die absolute waarheid word geag bekrompe, oningelig, en selfs skynheilig te wees.

Natuurlik maak verskillende godsdienste onverenigbare aansprake, en die relativis is dan nie in staat om op ‘n logiese wyse die ooglopende teenstrydighede te versoen nie. Byvoorbeeld, die Bybel maak die stelling “En net soos die mens bestem is om eenmaal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebreërs 9:27), terwyl sommige Oosterse gelowe reïnkarnasie verkondig. Dus, sterf ons eenkeer of baie kere? Beide leerstellings kan nie waar wees nie. Die relativis herdefinieer in werklikheid die waarheid ten einde ‘n paradoksale wêreld te skep waar meervoudige, teenstrydige “waarhede” saam kan bestaan.

Jesus sê, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). ‘n Christen het die Waarheid aanvaar, nie net as ‘n begrip nie, maar as ‘n Persoon. Hierdie erkenning van die Waarheid distansieer die Christen van die sogenaamde “onbevooroordeeldheid” van ons tyd. Die Christen erken openlik dat Jesus uit die dood opgestaan het (Romeine 10:9-10). As hy opreg glo in die opstanding, hoe kan hy “onbevooroordeeld” wees teenoor ‘n ongelowige se bewering dat Jesus nooit opgestaan het nie? Vir ‘n Christen om die duidelike onderrig van God se Woord te verloën, is inderdaad verraad teenoor God.

Neem kennis dat ons die grondslag van die geloof in ons voorbeelde sover aangehaal het. Sekere dinge (soos die liggaamlike opstanding van Christus) is nie onderhandelbaar nie. Ander dinge kan gedebateer word, soos wie die skrywer van die boek Hebreërs was, of wat Paulus se “doring in die vlees” was. Ons moet verhoed om vas te val in redetwis oor ondergeskikte aangeleenthede (2 Timotheus 2:23; Titus 3:9).

Selfs tydens redenasie/gesprekvoering oor prominente leerstellings, moet ‘n Christen beheer uitoefen en respek toon. Dit is een ding om nie met ‘n standpunt saam te stem nie; dit is iets heeltemal anders om ‘n persoon te verkleineer. Ons moet aan die Waarheid vashou terwyl ons medelye het met diegene wat dit bevraagteken. Soos Jesus, moet ons vol genade en waarheid (Johannes 1:14) wees. Petrus het ‘n goeie balans gehandhaaf tussen antwoord en nederigheid: “wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;” (1 Petrus 3:15).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Behoort Christene verdraagsaam te wees teenoor ander mense se godsdienstige oortuigings?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries