settings icon
share icon
Vraag

Christelike droom uitlegging? Kom ons drome van God af?

Antwoord


GotQuestions.org is nie ‘n Christelike droom uitleggingsdiens nie. Ons lê nie drome uit nie. Ons glo sterk dat ‘n persoon se drome en die betekenis daarvan tussen daardie persoon en God alleen is. Spreek God steeds deur drome tot ons? God het dwarsdeur die Skrif baie kere met mense in drome gepraat. Voorbeelde is Josef, seun van Jakob (Genesis 37:5-10); Josef, die man van Maria (Mattheus 2:12-22); Salomo (1 Konings 3:5-15); en verskeie ander (Daniël 2:1, 7:1; Mattheus 27:19). Daar is ook ‘n profesie van die profeet Joël (Joël 2:28), aangehaal deur die apostel Petrus in Handelinge 2:17, wat meld dat God drome gebruik. Die eenvoudige antwoord is dus, ja, God kan en spreek wel deur drome.

Daar is egter ‘n verskil in hoe ons hierdie waarheid vandag aanwend. Ons moet onthou dat die Bybel volledig is, dat dit alles aan ons openbaar maak wat ons moet weet van nou af totdat die ewigheid aanbreek. Dit beteken nie dat God nie meer wonderwerke doen of nie meer deur drome spreek nie, maar dit beteken dat enigiets wat God sê, hetsy deur ‘n droom, visioen, gevoel, of ‘n “stil sagte stem,” ooreen moet stem met dit wat Hy alreeds in Sy Woord aan ons openbaar het. Drome mag nie oor die Skrif seggenskap hê nie.

As jy voel dat God in ‘n droom tot jou gespreek het, dan moet jy die Woord van God biddend ondersoek om seker te maak dat jou droom in ooreenstemming met die Skrif is. Indien dit is, nader God dan in gebed en vra Hom wat jy moet doen in antwoord op jou droom (Jakobus 1:5). Die Skrif leer ons dat wanneer iemand ‘n droom vanaf God ontvang het, Hy altyd die betekenis daarvan duidelik maak, hetsy direk aan die persoon, deur ‘n engel, of deur ‘n boodskapper (Genesis 40:5-11; Daniël 2:45, 4:19). Wanneer God met ons praat, maak Hy seker dat ons die boodskap duidelik verstaan.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Christelike droom uitlegging? Kom ons drome van God af?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries