Vraag
Waarom is sola fide belangrik?
Antwoord
Sola fide, wat beteken "slegs geloof," is belangrik omdat dit een van die onderskeidende kenmerke of sleutelpunte is, wat die ware Bybelse Evangelie van valse evangelies skei. Die Evangelie self is op die spel en dit is dus 'n saak van ewige lewe of dood. Om die Evangelie reg te verstaan, is so belangrik dat die apostel Paulus in Galasiërs 1:9 sou skryf: "Soos ons reeds gesê het, sê ek nou weer: As iemand julle 'n ander evangelie verkondig as wat julle aangeneem het, laat hom vir ewig vervloek wees!" Paulus het dieselfde vraag behandel wat sola fide aanspreek — op watter grondslag verklaar God die menslike geslag as geregverdig? Is dit deur geloof alleen of deur geloof in kombinasie met werke? Paulus maak dit duidelik in Galasiërs en Romeine dat die mensdom "regverdig verklaar word op grond van geloof in Christus en nie deur die onderhouding van die wet nie" (Galasiërs 2:16), en die res van die Bybel stem hiermee saam.
Sola fide is een van die vyf "sola's" wat gebruik word om die kernkwessies van die Protestantse Hervorming te definieer en saam te vat. Elke een van hierdie Latynse uitdrukkings verteenwoordig 'n sleutelgebied, wat 'n strydpunt tussen die Hervormers en die Rooms-Katolieke Kerk was, en vandag dien hulle steeds om kernleerstellings wat noodsaaklik is vir die Evangelie en vir die Christelike lewe en praktyk, saam te vat. Die Latynse woord "sola" beteken "alleen" of "slegs" en die essensiële Christelike leerstellings wat deur hierdie vyf Latynse uitdrukkings verteenwoordig word, som die Bybelse lering oor hierdie deurslaggewende onderwerpe akkuraat op: sola scriptura — slegs Skrif, sola fide — legs geloof, sola gratia — slegs genade, sola Christus - slegs Christus, en sola Deo gloria — vir die heerlikheid van God alleen. Elkeen is uiters belangrik, en hulle is almal nou met mekaar verbind. Afwyking van een sal tot 'n fout in 'n ander noodsaaklike lering lei, en die resultaat sal byna altyd 'n valse evangelie wees, wat magteloos is om te verlos.
Sola fide of geloof alleen is 'n kernverskilpunt nie net tussen Protestante en Katolieke nie, maar tussen Bybelse Christendom en byna alle ander godsdienste en leringe. Die leer dat ons deur God as regverdig verklaar word (geregverdig) op grond van ons geloof alleen en nie deur werke nie, is 'n kernleer van die Bybel en 'n skeidslyn wat die meeste kultusse van Bybelse Christendom skei. Terwyl die meeste godsdienste en kultusse mense leer watter werke hulle moet doen om gered te word, leer die Bybel dat ons nie deur werke gered word nie, maar deur God se genade, deur Sy geskenk van geloof (Efesiërs 2:8-9). Bybelse Christendom onderskei homself van elke ander godsdiens, omdat dit gefokus is op wat God deur Christus se voltooide werk bereik het, terwyl alle ander godsdienste gebaseer is op menslike prestasie. As ons die lering van regverdigmaking deur geloof prysgee, gee ons die enigste weg tot saligheid prys. "As 'n mens werk, word sy loon nie as 'n genadegawe toegereken nie, maar as 'n verpligting. Aan die man wat nie werk nie, maar vertrou op God wat die goddelose regverdig maak, word sy geloof as geregtigheid toegereken" (Romeine 4:4-5). Die Bybel leer dat dié wat op Jesus Christus vertrou vir regverdigmaking deur geloof alleen, Sy geregtigheid toegereken kry (2 Korintiërs 5:21), terwyl dié wat probeer om hul eie geregtigheid vas te stel of geloof met werke meng, die straf sal ontvang wat alle mense verdien wat tekort skiet aan God se volmaakte standaard.
Sola fide — die leer van regverdigmaking deur geloof alleen sonder werke—is bloot die erkenning van wat herhaaldelik in die Skrif geleer word — dat God op 'n sekere tydstip goddelose sondaars regverdig verklaar deur Christus se geregtigheid aan hulle toe te reken (Romeine 4:5, 5:8, 19). Dit gebeur los van enige werke en voordat die individu eintlik begin om regverdig te word. Dit is 'n belangrike onderskeid tussen Katolieke teologie, wat leer dat regverdige werke verdienstelik is ten opsigte van verlossing en Protestantse teologie wat die Bybelse leer bevestig dat regverdige werke die resultaat en bewys is van 'n wedergeborene wat deur God geregverdig en deur die krag van die Heilige Gees wedergebore is.
Hoe belangrik is sola fide? Dit is so belangrik vir die evangelieboodskap en 'n Bybelse begrip van verlossing, dat Martin Luther dit beskryf as "die artikel waarmee en waardeur die kerk staan." Dié wat sola fide verwerp, verwerp die enigste evangelie wat hulle kan red en hang noodwendig 'n valse evangelie aan. Daarom veroordeel Paulus so fel dié wat wetsonderhouding of ander werke van geregtigheid geleer het in Galasiërs 1:9 en ander gedeeltes. Tog word hierdie belangrike Bybelse leer vandag weereens aangeval. Te dikwels word sola fide tot sekondêre belangrikheid verplaas, in plaas daarvan om as 'n noodsaaklike lering van die Christendom erken te word, wat dit beslis is.
"Dink aan Abraham: 'Hy het God geglo, en dit is hom as geregtigheid toegereken.' Verstaan dan dat dié wat glo, kinders van Abraham is. Die Skrif het vooruitgesien dat God die heidene deur geloof sou regverdig, en Hy het die evangelie vooraf aan Abraham verkondig: 'Al die nasies sal deur jou geseën word.' So is dié wat glo, saam geseën met Abraham, die man van geloof. Almal wat op die onderhouding van die wet staatmaak, is onder 'n vloek, want daar is geskryf: 'Vervloek is elkeen wat nie voortdurend alles doen wat in die boek van die Wet geskryf is nie.' Duidelik word niemand voor God geregtig deur die Wet nie, want: 'Die regverdige sal deur geloof lewe'" (Galasiërs 3:6-11).
English
Waarom is sola fide belangrik?