Vraag
Wat beteken dit om vrede met God te hê?
Antwoord
Voordat ons kan verstaan wat dit beteken om vrede met God te hê, moet ons erken dat mense in hul natuurlike toestand vyande van God is. Omdat ons 'n sondige natuur van ons eerste ouers, Adam en Eva, geërf het (Genesis 3; Romeine 5:12), word ons gebore met 'n neiging om onsself te behaag en ons eie gode te wees. Daardie rebelse natuur stel ons in stryd met ons volmaakte Skepper. Sy regverdige aard kan nie ons sonde oor die hoof sien nie; geregtigheid eis straf (Romeine 3:23; 6:23). Ons kan nie vrede met God skep nie, want ons beste pogings op ons beste dag is niks anders as vuil klere in vergelyking met Sy heiligheid nie (Jesaja 64:6). Daarom kan ons in ons sondige toestand nie versoen word nie, ons kan nie vrede met God hê nie, maak nie saak hoe hard ons probeer nie.
God het die inisiatief geneem om vrede met ons te sluit, deur Sy Seun na die aarde te stuur. Jesus het 'n volmaakte lewe geleef, Sy kruisiging het betaal vir die sondes van almal wat op Hom sou vertrou (Hebreërs 4:15; 2 Korintiërs 5:21), en Sy opstanding waarborg ons regverdigmaking voor God (Romeine 4:25). Jesus is die Vredevors (Jesaja 9:6), en Hy is die Een wat vir ons vrede met God gee. Daarom word die boodskap van verlossing in Christus die "vredeboodskap" genoem (Efesiërs 6:15).
Die engele se woorde aan die herders met Jesus se geboorte was: "Eer aan God in die hoogste hemele, en vrede op aarde in die mense met wie God behae het" (Lukas 2:14). Met wie het God behae? God se welgevalle en vrede rus op dié wat God se Seun deur geloof ontvang (Johannes 1:12). "Aangesien ons nou regverdig verklaar is deur geloof, het ons vrede met God deur ons Here Jesus Christus" (Romeine 5:1). Vrede met God beteken dat ons groot sondeskuld betaal is en God ons as regverdiges beskou (Kolossense 2:14; Romeine 3:22). Ons is nie meer vyande nie, maar geliefde kinders (1 Johannes 3:2). Sy heilige natuur kan gemeenskap met ons hê, omdat Hy ons "in Christus" sien.
Vrede met God beteken dat ons gewetens gesuiwer is (Hebreërs 10:22; Titus 3:5). Die oorweldigende las van skuld wat ons almal geteister het, is weg, op Jesus aan die kruis gelê (Kolossense 2:14; 1 Petrus 2:24). Die skaamte wat ons regtens gevoel het oor die bose dade wat ons gedoen het, is deur Jesus gedra. God die Vader neem ons as Sy eie kinders aan en nooi ons uit om "met vertroue na die troon van genade toe te kom" om met Hom gemeenskap te hê en te vra vir wat ons nodig het (Hebreërs 4:16). Vir die Christen beteken dit, dat om 'n vredesgevoel met God te behou, ons ons voortdurende sondes en tekortkominge bly bely (1 Johannes 1:9). Ons hoef nie aanhoudend te bely om vrede met God te hê nie; Jesus het dit aan die kruis gedoen toe ons geglo het. Ware wedergebore mense leef in voortdurende denkwyses van bekering, sodat geen sonde wortel kan skiet om hulle weer te ontheilig nie (Johannes 3:3; Romeine 6:1–4). Onbelyde sonde bederf die vreugdevolle gemeenskap tussen 'n kind van God en sy Vader.
Vrede met God stel die Christen ook in staat om te leef sonder vrees vir die dood of die ewigheid. Ons hoop is veilig in die wete dat Jesus alles gedoen het wat nodig was, om ons saak met God reg te maak (Matteus 5:17; Johannes 3:16–18). Ons laaste asem op aarde sal ons eerste asem in die hemel wees (2 Korintiërs 5:6–8; Lukas 16:22). Die Heilige Gees is aan ons gegee soos 'n verlowingsring, 'n sekerheid dat 'n groter gebeurtenis beslis sal plaasvind (2 Korintiërs 1:22; 5:5). Op die oomblik woon die Heilige Gees in ons om ons te lei, te oortuig, te vertroos en ons te herinner aan Jesus se voltooide offer namens ons (Johannes 14:16–17; 16:8–11; 1 Korintiërs 3:16; 6:19; Efesiërs 1:13–14).
Die mens is geskape om in vrede met God te leef. Sonde het daardie vrede vernietig en vernietig dit steeds vir almal wat Jesus se aanbod van verlossing afwys. Enigiemand wat egter die Naam van die Here aanroep, in sy hart glo dat Jesus die enigste weg na God is, en bereid is om Hom as Verlosser en Here aan te neem, kan vrede met God hê (Romeine 10:9–10, 13; Johannes 3:16, 36; Handelinge 2:21, 28).
English
Wat beteken dit om vrede met God te hê?