settings icon
share icon
Vraag

Is dit Bybels om Jesus in jou hart in te nooi?

Antwoord


"Wil jy gered word? Vra dan net vir Jesus om in jou hart te woon." Alhoewel hierdie stelling nie anti-Bybels is nie, is dit ook nie uitdruklik Bybels nie. Die bewoording skep 'n denkbeeld wat maklik tot verkeerde indrukke kan lei, veral by kinders wat geneig is om dinge letterlik op te neem. Boonop skakel die aansporing om "Jesus in jou hart in te nooi" – as dit die hele boodskap is – belangrike dinge soos bekering en geloof uit. Die Bybel noem wel dat Jesus in 'n sekere sin in ons harte woon: Paulus het gebid "dat Christus deur geloof in julle harte mag woon" (Efe­siërs 3:17). Maar Paulus skryf aan gelowiges wat Christus reeds ontvang het. Die parallelle gebed in vers 16 is dat God "julle mag versterk met krag deur sy Gees in julle innerlike wese." Daar is geen evangelistiese oproep in die konteks van Efesiërs 3 nie. Paulus sê nie vir die Efesiërs om "Jesus in hul harte in te nooi" nie; hy verhoog eenvoudig hul bewustheid dat Jesus deur die Heilige Gees in hulle teenwoordig is.

Die vers waarvan die konsep "nooi Jesus in jou hart in" gewoonlik geneem word, is Openbaring 3:20: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan en saam met hom eet, en hy saam met My." Let wel, die vers maak glad nie melding van die hart nie. Die individu vra ook nie Jesus om iets te doen nie; eerder vra Jesus ons om iets te doen. In konteks praat Jesus met die gemeente van Laodicea, wat desperaat tot bekering moes kom (vers 19). Die Laodicense het Jesus effektief uit hul gemeenskap uitgesluit, en die Here het gesoek om daardie gemeenskap te herstel. Die gedeelte handel nie oor 'n persoon wat die Here om redding aanroep nie.

Die idee dat Jesus "in jou hart inkom" word nêrens in enige prediking in die Bybel gebruik nie. Die evangelie is die goeie nuus van Jesus se dood en opstanding vir die vergifnis van ons sonde (1 Korintiërs 15:3–4). Evangelievoorstellings in die Bybel moedig 'n behoorlike reaksie op daardie boodskap aan: glo (Johannes 3:16; Handelinge 16:31), ontvang (Johannes 1:12), en bekeer (Handelinge 3:19). Ons moet van gedagte verander oor ons sonde en oor wie Christus is, glo dat Jesus gesterf het en weer opgestaan het, en die geskenk van die ewige lewe, deur geloof ontvang. Geen van die apostels het ooit vir iemand gesê om "Jesus in jou hart jn te nooi" nie.

Dikwels word die aansporing om "Jesus te vra om in jou hart te kom" gebruik as 'n eenvoudige manier om te sê: "Vra Jesus om in jou lewe in te kom" of "Laat die Here toe om beheer oor te neem." As dit in die konteks van die verkondiging van die hele evangelie gedoen word, is daar geen probleem nie. Maar voordat 'n persoon uitgenooi word om "Jesus in jou hart in te nooi," moet hy of sy sonde en die straf daarvoor, die betaling wat Christus aan die kruis gemaak het, en die werklikheid van Christus se opstanding verstaan. Trouens, om redding as Jesus se "kom in jou hart" te beskryf, kan selfs help om 'n persoon te laat verstaan dat die Gees van Christus kom, om in die siel te woon (sien Joh. 14:17). Tog is dit altyd die beste om die terminologie te gebruik wat die Bybel gebruik. "Nooi Jesus in jou hart in" kommunikeer nie ten volle wat werklik by verlossing gebeur nie.

Wanneer ons die evangelie deel, moet ons versigtig wees oor wat ons sê en hoe ons dit sê. Selfs die woord "glo" kan misleidend wees, as dit aangebied word as blote intellektuele instemming (om te stem dat sekere feite waar is) in plaas van vertroue (om op daardie ware feite staat te maak). Judas Iskariot het aan sekere feite aangaande Jesus geglo, maar hy het nooit op Jesus vir verlossing vertrou nie. Verlossing gaan nie daaroor om aan 'n lys feite te glo nie. Verlossing gaan nie daaroor om Jesus te vra om in jou hart te kom nie. Verlossing gaan daaroor om op Jesus as jou Verlosser te vertrou, die vergifnis wat Hy uit genade deur geloof bied, te ontvang. Verlossing gaan daaroor om nuut gemaak te word, deur die offer van Jesus Christus en die krag van die Heilige Gees (Titus 3:5).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is dit Bybels om Jesus in jou hart in te nooi?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries