Vraag
Wat beteken dit om "die genade van God te verbeur"(Galasiërs 5:4)?
Antwoord
Galasiërs 5:4 en die verwysing daarna om die genade te verbeur, is een van daardie "waarskuwingsgedeeltes" waarop gewys word deur dié wat die leer van die ewige sekuriteit van die gelowige verwerp. Maar weens die Bybelse leer van die volharding van die heiliges weet ons, dat die waarskuwings nie op ware gelowiges in Christus gerig kan wees nie, want sodra genade geskenk is, kan gelowiges nie dit verbeur nie.
In Galasiërs 5:4 is die konteks Paulus se waarskuwing teen die mengsel van wet en Evangelie om geregtigheid te verkry. Hy sê vir dié wat hulleself laat besny (Galasiërs 5:2) dat hulle "probeer om deur die wet regverdig te word" en daarom "van Christus vervreem is; julle het van die genade afvallig geword." Daar moet op gelet word dat daar geen melding gemaak word van verlossing of die sekuriteit van die gelowige nie. Hy sê vir dié wat besnydenis ontvang—met ander woorde, wat probeer om hulleself te regverdig deur die rituele en reëls van die Wet—dat Christus vir hulle tot "geen voordeel" sal wees nie.
Petrus verduidelik verder in vers 3, wanneer hy sê dat "elkeen wat besny word" "verplig is om die hele Wet te onderhou." Waarom is so 'n stelling belangrik in verband met Christus wat "geen voordeel vir julle" is nie? Let op wat Petrus in Galasiërs 3:13 aangaande Christus se offer sê: "Christus het ons losgekoop van die vloek van die Wet, deur vir ons 'n vloek te word." As dit in hierdie lig beskou word, tesame met 'n kort begrip van die Griekse terme wat gebruik word, kan ons 'n beter begrip kry van wat Paulus sê.
Die twee belangrikste woorde in Galasiërs 5:4 is "καταργέω" (afgesny) en "ἐκπίπτω" (afgeval). Die woord "καταργέω" vereis nie die "harde" implikasies wat met "afsny" in die Engelse taal gepaardgaan nie, alhoewel dit nie ligsinnig opgeneem moet word nie. In die lig van Paulus se woorde in Galasiërs 5:2 en hoe hy die term in verse soos Romeine 3:3, 4:14 en 1 Korintiërs 1:28 gebruik, is 'n goeie manier om die term "καταργέω" te verstaan, "nietig maak" of "wegdoen." Alhoewel die woord "ἐκπίπτω" ongetwyfeld kan beteken om af te val van 'n voorheen ingenome posisie, soos dié wat die ewige sekuriteit van ware gelowiges ontken, beweer, beteken dit in die konteks van hierdie vers en soos dit gebruik word in gedeeltes soos Handelinge 27, dat 'n goeie begrip van die uitdrukking in Galasiërs 5:4 is dat dit "vervreem" of "geskei van" beteken.
Paulus waarsku teen die ter syde skuif van die genade wat van Christus kom. Dié wat dit doen, het die genade wat deur Sy bloed kom, nietig gemaak of daarvan weggeloop en het in plaas daarvan, probeer om hulleself deur die werke van die Wet te regverdig. Die doel van Paulus se brief aan die Galasiërs was om te waarsku teen die Judaïseerders (verjoodse mense), omdat hulle probeer het om wedergebore Christene terug te lok na regverdigmaking deur die Wet, wat onmoontlik is (Galasiërs 2:16). Hy herinner hulle aan die vryheid wat hulle in Christus het: "Dit is om vry te wees dat Christus ons vrygemaak het. Staan dan vas, en laat julle nie weer onder 'n juk van slawerny gedwing word nie" (Galasiërs 5:1).
English
Wat beteken dit om "die genade van God te verbeur"(Galasiërs 5:4)?