settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek weet dat my toekomstige sondes vergewe is?

Antwoord


Wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanvaar, vergewe God al ons sondes: verlede, hede en toekoms. Vergewing kom as 'n volledige pakket; God vergewe ons nie gedeeltelik nie, maar ten volle.

Die gelowige in Christus kan sê: "My toekomstige sondes is vergewe" om hierdie redes:

• Toe Jesus gesterf het, was al vandag se sondes nog toekomstig. Jesus het nie net vir die sondes van die mense wat voor Hom geleef het, gesterf nie. Hy het vir die sondes van die hele wêreld gesterf (1 Johannes 2:2), insluitend die sondes van dié wat ná Hom geleef het.

• As ons toekomstige sondes nie vergewe is nie, moet twee dinge gebeur: 1) wanneer ons in die toekoms sondig, keer ons terug na 'n onvergewe toestand, wat beteken dat ons ons saligheid verloor en weer gered moet word, en 2) Christus moet weer sterf om die sondes wat ons sedert Sy laaste dood gepleeg het, te vergewe. Geen van hierdie scenario's is Bybels nie. Ons word deur God bewaar, en dus is ons saligheid veilig (Johannes 10:28–30); en Christus het "eenmaal vir almal" gesterf (Hebreërs 10:10; vgl. Hebreërs 7:25).

• Van die kruis af het Jesus gesê: "Dit is volbring!" (Johannes 19:30). Geen ander offer sou ooit nodig wees nie. Sonde – alle sonde – was versoen.

• God se doel, wat nie dwarsgeboom kan word nie, is dat sy kinders volmaak gemaak word: "Die wat God vooruit geken het, het Hy ook uitverkies om gelyk te word aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broers en susters. En die wat Hy vooruit geken het, het Hy ook geroep; die wat Hy geroep het, het Hy ook geregverdig; die wat Hy geregverdig het, het Hy ook verheerlik" (Romeine 8:29–30). Let daarop dat al God se handelinge in die verlede tyd is, asof hulle reeds gebeur het.

• "Ons is regverdig verklaar deur geloof" (Romeine 5:1). Wanneer God ons regverdig, verklaar Hy ons as regverdig. Ons sondig nog steeds, maar God se verklaring bly van krag. Die feit van ons regverdigmaking dui daarop dat ons toekomstige sondes vergewe is.

• "Daar is nou geen veroordeling meer vir die wat in Christus Jesus is nie" (Romeine 8:1). Niks, nie eers ons toekomstige sondes nie, sal ons veroordeel nie. Die vonnis van "vergewe in Christus" is reeds deur die goddelike hof uitgespreek.

• "Want ek is oortuig dat nie die teenwoordige tyd, nog die toekoms, . . . nog enigiets anders in die hele skepping, ons kan skei van die liefde van God wat in Christus Jesus, onse Here, is nie" (Romeine 8:38–39). Die toekoms kan ons nie van God se liefde skei nie, selfs al is daar sonde in ons toekoms.

Natuurlik behoort die feit dat ons toekomstige sondes in Christus vergewe is, ons nie ligsinnig teenoor sonde te maak nie. Niemand kan sê: "My toekomstige sondes is vergewe," en dan voortgaan om 'n lewe van sonde te lei nie. So 'n houding is uiters on-Christelik: "Wat sal ons dan sê? Moet ons aanhou sondig, sodat die genade kan vermeerder? Beslis nie! Ons het immers vir die sonde gesterf; hoe kan ons dan nog in die sonde lewe?" (Romeine 6:1–2; sien ook 1 Johannes 3:9).

Die Bybel leer dat ons ná verlossing steeds sondig (1 Johannes 1:8; 2:1). Ons sal nie voor die heerlikheid sondeloos volmaak raak nie. Die mag van die sonde is gebreek, maar omdat ons nog steeds swakke mense is wat in 'n gevalle wêreld leef, gee ons soms steeds aan versoeking toe. Ons toekomstige sondes, alhoewel uiteindelik in Christus vergewe, moet steeds aan God bely word (1 Johannes 1:9). Onbelyde sonde, 'n teken van 'n ongehoorsame, koppige hart, sal die Vader se tug oor Sy kinders bring (Hebreërs 12:4–11).

Wanneer ons sondig, vrees ons nie om ons saligheid te verloor nie. Terselfdertyd verstaan ons dat ons sonde skade berokken aan ons gemeenskap met die Hemelse Vader en aan ons verhoudings met ander mense. Ons bely ons toekomstige sondes aan God, terwyl ons dit pleeg, om die volgende redes:

• Ons poog om in die lig te wandel, soos Hy in die lig is (1 Johannes 1:7).

• Ons streef na vrede in die Liggaam van Christus (Jakobus 4:1).

• Ons wil nie die Heilige Gees bedroef nie (Efe­siërs 4:30).

• Ons wil die vreugde van ons saligheid herstel hê (Psalm 51:12).

• Ons verlang daarna om "'n lewe te lei wat die Here waardig is en Hom in alle opsigte kan behaag" (Kolossense 1:10).

• Ons getuienis maak saak. Ons is geroep tot goeie werke, wat die Vader verheerlik. Ons lig moet skyn, nie onder 'n emmer weggesteek word nie (Matteus 5:14–16).

• Ons moet "doodmaak . . . alles wat tot [ons] aardse natuur behoort" (Kolossense 3:5). Om ons sonde aan God te bely, is deel daarvan om die ou natuur dood te maak.

Ons is gered deur genade deur geloof, en die oomblik wat ons op Christus vertrou, word ons met God versoen. Ons sondes, insluitend ons toekomstige sondes, is uiteindelik vergewe (Kolossense 2:13), en ons saligheid is permanent.

Die vrou wat betrap is in egbreuk, is in Johannes 8 na Jesus gebring. In plaas daarvan om haar te veroordeel, het Jesus haar vergifnis aangebied: "Ek veroordeel jou ook nie," het Hy gesê (Johannes 8:11). Toe het Hy haar vrygelaat, nie met 'n vrye pas om aan te hou sondig nie, maar met 'n bevel om op te hou sondig: "Gaan nou en leef nie meer in die sonde nie." Hy het nie gesê: "Gaan nou en doen wat jy wil nie." Dié wat deur God vergewe is, is geroep tot 'n lewe van heiligheid.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek weet dat my toekomstige sondes vergewe is?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries