Vraag
Sal God my vergewe?
Antwoord
Voel jy skuldig en wanhopig? Verskrik oor sommige van die dinge wat jy gedoen het? Vra jy jouself af of vergifnis moontlik is? Die oortuiging van sonde kan ons tot 'n plek bring waar ons ons magteloos en hopeloos voel. Ons skaamte verlei ons om te dink dat niemand, en nog minder God, ons kan vergewe nie. Ons wonder dalk hoe ons kan voortgaan. Watter moontlike hoop kan daar wees?
Het jy gehoor dat God 'n vergewensgesinde God is? Het jy van Sy groot liefde gehoor? Kom ons begin eers met die goeie nuus: niemand is buite God se vergifnis nie. Maak nie saak wat jy gedoen het nie, jy het nie 'n groter sonde begaan, as wat God se vermoë is om jou te vergewe nie.
Die Bybel vertel ons dat alle mense gesondig het (Romeine 3:23). Elkeen van ons verdien ewige skeiding van God (Romeine 6:23). Maak nie saak wat die sonde is nie — verkragting, moord, terrorisme, egbreuk, diefstal, trots, kwaadpraat, jaloesie, leuens, om nie ander ten volle lief te hê nie, ens. — ons verdien om gestraf te word. Dit is 'n alles-of-niks-scenario. God oordeel ons nie daarvolgens of ons "goeie" dade ons "slegte" dade oortref nie, maar wel of ons Sy weg van verlossing sal aanvaar.
"Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Want God het nie sy Seun in die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, is reeds veroordeel, omdat hy nie in die Naam van die enigste Seun van God geglo het nie" (Johannes 3:16–18, ESV).
God het 'n weg van vergifnis gemaak, nie net vir sommige sonde nie, maar vir dit alles. Daar is geen sonde wat God nie kan vergewe nie. Maak nie saak wat jy gedoen het nie, God sal jou vergewe as jy in geloof na Hom toe kom.
Daar is net een weg tot vergifnis. God sal jou nie vergewe, omdat jy belowe om volgende keer beter te doen of omdat jy skadevergoeding betaal of omdat jy goeie dade verrig nie. Nee, Hy sal jou vergewe, omdat Jesus die straf vir sonde namens jou betaal het.
Jesus was ten volle God en ten volle mens. Hy was sonder sonde en het 'n volmaakte lewe gelei. Maar Hy is aan die kruis gekruisig. Hy het 'n sondaar se dood gesterf. Die Bybel sê vir ons: "Om ons ontwil het Hy Hom [Jesus] wat geen sonde geken het nie, tot sonde gemaak, sodat ons in Hom die geregtigheid van God kon word" (2 Korintiërs 5:21, ESV). Jesus het ons sonde op Hom geneem, sodat ons dit nie hoef te dra nie. Hy het die werk gedoen en die prys betaal, sodat ons vergifnis kon ontvang.
Ons weet Jesus het die waarheid gespreek en dat Sy offer namens ons doeltreffend was, omdat Hy uit die dood opgestaan het (1 Korintiërs 15:3–4, 20–22). Jesus het gesterf en is begrawe, maar Hy is liggaamlik uit die dood opgewek. Jesus het sonde en die dood oorwin. Hy het dit moontlik gemaak dat ons nie in ons sonde, skuld en skaamte vasgevang hoef te bly nie. Hy het 'n weg gebaan vir ons om verby wanhoop te kom en in ware lewe in te tree (Johannes 10:10). Hy bied ons vergifnis aan as ons ons vertroue in Hom stel.
Wil jy vandag vergifnis van God ontvang? Daar is nie 'n enkele gebed wat jou hierdie vergifnis sal verleen nie. Soos verduidelik is, word vergifnis moontlik gemaak deur die werk van Jesus Christus. Maar ons kan hierdie vergifnis ontvang deur God daarvoor te vra, in geloof, deur gebed. Jy kan iets soos die volgende sê:
"God, ek weet dat ek teen U gesondig het. Ek weet dat ek verdien om vir ewig van U geskei te wees. Ek weet dat ek dit nie vir U kan vergoed of in myself regverdig kan word nie. Ek het U vergifnis nodig. U het 'n weg voorsien. U het U Seun Jesus gestuur om 'n volmaakte lewe te lei, te sterf en weer uit die dood op te staan, namens my. U het die prys betaal wat ek vir sonde geskuld het, sodat ek vergewe kan word en gemeenskap met U kan geniet. Vergewe my asseblief, God. Ek glo in U. Verwyder my skuld en bring my in 'n nuwe lewe in U Seun. Dankie dat ek kan vertrou dat U dit sal doen. Dankie dat U 'n weg van vergifnis voorsien het en dat U my in U familie aangeneem het. Amen."
As jy hierdie gebed gebid het en dit werklik met jou hart glo, is jy vergewe. Jy is in Jesus nuut gemaak (2 Korintiërs 5:17) en het 'n kind van God geword (Johannes 1:12–13). Prys God daarvoor dat Hy jou van die las van skuld en wanhoop bevry het. Ons wil graag met jou in verbinding tree. Laat weet ons asseblief dat jy die besluit geneem het, om God se vergifnis in Jesus Christus te ontvang, deur vir ons 'n e-pos te stuur na questions@gotquestions.org.
English
Sal God my vergewe?