Vraag
Waarom het Jesus vir die ryk jongman gesê hy kon gered word deur die gebooie te gehoorsaam?
Antwoord
Om Jesus se antwoord op die ryk jongman se vraag te verstaan — "Wat moet ek doen om gered te word?" — moet ons drie dinge in ag neem: die agtergrond van die ryk jongman, die doel van sy vraag, en die kern van die evangelie van Jesus Christus. Die jongman het vir Jesus gevra: "Rabbi, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?" (Matteus 19:16). Jesus het geantwoord: "As jy die ewige lewe wil ingaan, hou die gebooie" (vers 17). Op die oog af lyk dit of Jesus sê dat die jongman en, by verdere uitbreiding, alle mense die gebooie moet gehoorsaam om gered te word. Maar is dit regtig wat Hy gesê het? Aangesien die kern van die evangelieboodskap is dat ons uit genade gered word, deur geloof (Efesiërs 2:8–9), waarom sou Jesus die ryk jongman 'n "alternatiewe plan" aangebied het?
Die verhaal van die ryk jongman kom voor in al drie die Sinoptiese Evangelies, Matteus 19:16–23, Markus 10:17–22 en Lukas 18:18–23. Die man word beskryf as 'n "heerser", wat beteken dat hy moontlik 'n prins of landdros was. Aangesien geen Romeinse owerste Jesus as 'leraar' of 'meester' sou aanspreek nie, word daar aangeneem dat hierdie man 'n Joodse owerste in die plaaslike sinagoge was. Hierdie man het ook 'groot rykdom' gehad (Mattheüs 19:22), en Jesus het later Sy gesprek met hierdie man gebruik om die skadelike uitwerking, wat geld op 'n mens se begeerte na die ewige lewe kan hê, te leer (verse 23–24). Die les wat Jesus uit hierdie voorval wou leer, handel oor geld, nie oor verlossing deur werke nie.
Die eerste ding wat Jesus sê op die man se groet van "Goeie leermeester," is om hom daaraan te herinner dat niemand goed is, behalwe God nie (Matteus 19:17). Jesus het nie Sy eie goddelikheid ontken nie. Inteendeel, Jesus het die man onmiddellik laat nadink oor wat "goed" werklik beteken — aangesien net God goed is, kan dit wat ons gewoonlik menslike goedheid noem, iets heeltemal anders wees. Hierdie waarheid kom later in die gesprek na vore. Toe die man vir Jesus vra om te spesifiseer watter gebooie hy moes onderhou, het Jesus ses van die gebooie opgesom, insluitend "jy moet jou naaste liefhê soos jouself" (Matteus 19:19). Die man antwoord: "Al hierdie het ek gehou. . . . Wat ontbreek my nog?" (vers 20), en dit is 'n belangrike stelling. Die jongman was duidelik godsdienstig en opreg in sy strewe na geregtigheid. Sy probleem was dat hy homself foutloos geag het ten opsigte van die Wet. En dit is die punt wat Jesus uitdaag.
Jesus sê vir die man: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan, volg My" (Matteus 19:21). Die jongman het besluit dat Jesus te veel van hom gevra het. "Hy het bedroef weggegaan, want hy het groot rykdom gehad" (vers 22). In plaas daarvan om Jesus se opdragte te gehoorsaam, het hy sy rug op die Here gedraai en weggestap. Die man se keuse het ongetwyfeld ook Jesus bedroef, omdat Jesus hom liefgehad het (Markus 10:21).
Toe Jesus vir die jongman sê om die gebooie te hou, het Hy nie gesê dat hy deur die gebooie te gehoorsaam gered kon word nie; eerder het Jesus die Wet beklemtoon as God se volmaakte standaard. As jy die Wet volmaak kan onderhou, kan jy die straf vir sonde ontvlug — maar dit is 'n groot "as". Toe die man antwoord dat hy aan die Wet se standaard voldoen, het Jesus eenvoudig een saak aangeraak, wat bewys het dat die man nie aan God se heiligheid voldoen het nie. Die man was nie bereid om die Here te volg as dit beteken het, dat hy sy rykdom moes prysgee nie. Deur dit te doen, het die man die twee grootste gebooie oortree; hy het nie die Here met sy hele hart liefgehad nie, en hy het nie sy naaste soos homself liefgehad nie. Hy het homself (en sy geld) meer liefgehad. Ver van die feit om "al" die gebooie te onderhou, soos hy beweer het, was die man 'n sondaar soos al die ander, want die Wet het dit bewys.
As die man God en ander mense meer liefgehad het as sy eiendom, sou hy gewillig gewees het om sy rykdom op te offer in diens van God en mens. Maar dit was nie die geval nie. Hy het 'n afgod van sy rykdom gemaak, en hy het dit meer liefgehad as God. Met chirurgiese presisie ontbloot Jesus die gierigheid in die man se hart — gierigheid waarvan die man nie eens vermoed het dat hy dit gehad het nie. Jesus se stelling dat net God goed is (Matteus 19:17), word in die jongman se reaksie op Jesus se bevel bewys.
In Sy gesprek met die ryk jong owerste het Christus nie geleer dat ons deur die werke van die Wet gered word nie. Die boodskap van die Bybel is dat verlossing uit genade is deur geloof (Romeine 3:20, 28; 4:6; Galasiërs 2:16; Efesiërs 2:9; 2 Timoteus 1:9). Inteendeel, Jesus het die man se liefde vir geld gebruik om te wys hoe die man tekortgeskiet het aan God se heilige standaard — soos ons almal. Die ryk jongman het die Verlosser nodig gehad, en so ook ons.
English
Waarom het Jesus vir die ryk jongman gesê hy kon gered word deur die gebooie te gehoorsaam?