Vraag
Hoe en aan wie het Jesus ons losprys betaal?
Antwoord
'n Losprys is iets wat betaal word om die vrylating van iemand wat gevange gehou word, te bewerkstellig. Jesus het ons losprys betaal om ons van sonde, dood en hel vry te maak. In die boeke Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium word God se vereistes vir offers gevind. In die Ou Testamentiese tye het God die Israeliete beveel om diere-offers te bring vir versoening van sonde; dit wil sê, 'n dier se dood het in die plek van 'n mens se dood gekom, aangesien die dood die straf vir sonde is (Romeine 6:23). Eksodus 29:36a lui: "Daagliks moet julle 'n jong bul offer as 'n sonde-offer."
God eis heiligheid (1 Petrus 1:15-16). God se Wet eis heiligheid. Ons kan nie volledige heiligheid aan God gee, weens die sondes wat ons pleeg nie (Romeine 3:23); daarom eis God voldoening van Sy Wet. Offerandes aan Hom het aan die vereistes voldoen. Dit is waar Jesus in die prentjie kom. Hebreërs 9:12-15 sê vir ons: "Hy het eenmalig bloed in die Allerheiligste ingedra, maar nie die bloed van bokke en kalwers nie. Hy het sy eie bloed ingedra, en daarmee het Hy ons saligheid vir ewig verseker. Onder die ou bedeling kon die bloed van bokke en stiere en die as van 'n jong koei die liggame van mense van rituele onreinheid reinig. Dink net hoe baie meer die bloed van Christus ons harte sal reinig van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan aanbid. Want deur die krag van die ewige Gees het Christus Homself as 'n volmaakte offer vir ons sondes aan God aangebied. Daarom is Hy die een wat die nuwe verbond tussen God en die mense bemiddel, sodat almal wat uitgenooi is, die ewige erfdeel wat God hulle belowe het, kan ontvang. Want Christus het gesterf om hulle van die straf vir die sondes wat hulle onder daardie eerste verbond begaan het, vry te maak."
Lees ook Romeine 8:3-4: "Die wet van Moses kon ons nie red nie, weens ons sondige natuur. Maar God het 'n ander plan in werking gestel om ons te red. Hy het sy eie Seun in 'n menslike liggaam soos ons s'n gestuur, behalwe dat ons s'n sondig is. God het sonde se beheer oor ons vernietig, deur sy Seun as 'n offer vir ons sondes te gee. Hy het dit gedoen sodat die vereiste van die wet ten volle vir ons vervul sou word, wat nie meer ons sondige natuur volg nie, maar eerder die Gees volg."
Duidelik het Jesus die losprys vir ons lewens aan God betaal. Daardie losprys was Sy eie lewe, die vergieting van Sy eie bloed, 'n offer. As gevolg van Sy offerdood het elke persoon op aarde die geleentheid om daardie versoeningsgeskenk te aanvaar en deur God vergewe te word. Want sonder Sy dood sou God se Wet steeds bevredig moes word — deur ons eie dood.
English
Hoe en aan wie het Jesus ons losprys betaal?