settings icon
share icon
Vraag

Wat is die leer van vervanging?

Antwoord


Plaasvervanging is een van die groot temas van die Bybel. God het die beginsel van vervanging in die Tuin van Eden ingestel toe Adam en Eva gesondig het. Deur 'n dier te slag om hulle naaktheid te bedek (Genesis 3:21), het God begin om 'n prentjie te skilder van wat dit sou verg om die mensdom terug in 'n behoorlike verhouding met Hom te bring. Hy het daardie tema voortgesit met Sy uitverkore volk Israel. Deur vir hulle die Wet te gee, het God hulle Sy heiligheid getoon en hulle onvermoë om daardie heiligheid te bereik, gedemonstreer. God het hulle toe 'n plaasvervanger gegee om die prys vir hulle sonde te betaal, in die vorm van bloedoffers (Eksodus 29:41-42; 34:19; Numeri 29:2). Deur 'n onskuldige dier volgens God se voorskrifte te offer, kon mense hulle sondes vergewe kry en die teenwoordigheid van God betree. Die dier het in die sondaar se plek gesterf, waardeur die sondaar vrygelaat kon word, gerehabiliteer. Levitikus 16 vertel van die sondebok waarop die oudstes van Israel hulle hande sou lê, waardeur die sondes van die volk simbolies na die bok oorgedra is. Die bok is toe in die wildernis vrygelaat, wat die sondes van die volk ver weggedra het.

Die tema van vervanging kom regdeur die Ou Testament voor as 'n voorloper van die koms van Jesus Christus. Die Paasfees het opvallend 'n plaasvervanger gehad. In Eksodus 12 gee God instruksies aan Sy volk om voor te berei vir die komende vernietiger, wat die eersgeborene, manlike kind van elke gesin sou doodslaan as 'n oordeel oor Egipte. Die enigste manier om aan hierdie plaag te ontkom, was om 'n volmaakte manlike lam te neem, dit te slag en die bloed op die dwarsbalk en deurkosyne van hul huise te sit. God het vir hulle gesê: "Die bloed sal 'n teken wees vir julle in die huise waar julle is; en wanneer Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. Geen verwoestende plaag sal julle aanraak, wanneer Ek Egipte tref nie" (Eksodus 12:13). Daardie Paaslam was 'n plaasvervanger vir elke eersgebore manlike kind wat, dit sou aanvaar.

God het daardie tema van vervanging in die Nuwe Testament voortgesit met die koms van Jesus. Hy het die toneel geskep, sodat die mensdom presies sou verstaan wat Jesus gekom het om te doen. 2 Korintiërs 5:21 sê: "Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde gemaak ten gunste van ons, sodat ons die regverdigheid van God in Hom kon word." God se volmaakte Lam het die sondes van die wêreld op Hom geneem, Sy lewe neergelê en in ons plek gesterf (Johannes 1:29; 1 Petrus 3:18). Die enigste aanvaarbare offer vir sonde is 'n volmaakte offer. As ons vir ons eie sondes gesterf het, sou dit nie 'n voldoende betaling gewees het nie. Ons is nie volmaak nie. Slegs Jesus, die volmaakte God-Mens, voldoen aan die vereiste, en Hy het sy lewe gewilliglik vir ons s'n afgelê (Johannes 10:18). Daar was niks wat ons kon doen om onsself te red nie, daarom het God dit vir ons gedoen. Die messiaanse profesie in Jesaja 53 maak die plaasvervangersdood van Christus uiters duidelik: "Hy is deurboor vir ons oortredings, Hy is verbrysel vir ons ongeregtighede; die straf wat ons vrede gebring het, was op Hom, en deur Sy wonde is ons genees" (vers 5).

Jesus se vervanging vir ons was volmaak, anders as die dieroffers van die Ou Testament. Hebreërs 10:4 sê: "Want dit is onmoontlik dat die bloed van stiere en bokke sondes sou wegneem." Iemand mag sê: "Jy bedoel, al daardie offers wat die Jode gebring het, was tevergeefs?" Die skrywer maak duidelik dat dierebloed self geen waarde gehad het nie. Dit was wat daardie bloed simboliseer het wat die verskil gemaak het. Die waarde van die antieke offers was dat die dier 'n plaasvervanger vir 'n mens se sonde was en dat dit vooruitgewys het na die uiteindelike offer van Christus (Hebreërs 9:22).

Sommige mense maak die fout om te dink dat, aangesien Jesus vir die sondes van die wêreld gesterf het, almal eendag na die hemel sal gaan. Dit is onjuis. Die plaasvervangersdood van Christus moet persoonlik op elke hart toegepas word, op dieselfde wyse waarop die bloed van die Paasfees persoonlik op die deur toegepas moes word (Johannes 1:12; 3:16-18; Handelinge 2:38). Voordat ons "die regverdigheid van God in Hom" kan word, moet ons ons ou sondige natuur vir Sy heilige natuur ruil. God bied die Verlosser aan, maar ons moet daardie Verlosser persoonlik ontvang, deur Christus in geloof te aanvaar (Efe­siërs 2:8-9).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die leer van vervanging?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries