settings icon
share icon
Vraag

Wat is die leer van die uitverkiesing?

Antwoord


'n Verkiesing is 'n tyd wanneer mense kies wie hulle wil hê om sekere poste te beklee, van president af tot ondertoe. 'n Verkiesing is 'n keuse. Die Bybelse leer van die uitverkiesing leer dat God kies om sommige te verlos, en, noodwendig, as Hy nie almal kies nie, is daar sommige wat oorgesien word. Diegene wat Hy verkies het om te red, word "die uitverkorenes" genoem (sien bv. Markus 13:20).

Die Bybel leer dat God mense kies op grond van Sy eie planne en Sy begeerte om genade aan onwaardige sondaars te betoon. Efesiërs 1:4–6 sê: "Want Hy het ons in Hom voor die skepping van die wêreld uitverkies om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees. In liefde het Hy ons voor die skepping van die wêreld uitverkies om deur Jesus Christus as kinders aangeneem te word, volgens sy behae en sy wil—tot lof van sy heerlike genade wat Hy vryelik aan ons gegee het, in Hom wat Hy liefhet." Hy het in liefde gekies, in ooreenstemming met sy behae en sy wil, sodat Hy verheerlik sou word. God se uitverkiesing het niks te doen met wat die uitverkorenes sou doen of nie sou doen nie.

God het nie almal gekies nie. As Hy dit gedoen het, sou almal tot geloof in Christus gekom het. Hy het sommige gekies en ander oorgelaat aan hul eie begeertes. As ons aan onsself oorgelaat was, sou ons almal in ons opstand voortgegaan en Christus verwerp het. God het gekies om sommige na te jaag, hulle te oortuig van hul nood en hulle tot geloof te lei. Dit is as gevolg van God se keuse dat enigiemand tot geloof in Christus kan kom. Jesus het gesê: "Niemand kan na My toe kom nie, behalwe as die Vader wat My gestuur het, hulle trek, en Ek sal hulle opwek op die laaste dag" (Johannes 6:44).

Dit is 'n moeilike waarheid om te begryp. Ons word in versoeking gebring om te dink dat ons meer regverdig en genadig is as God en dat Hy almal moes kies. Ons moet daardie versoeking verwerp. Ons is nie in 'n posisie om God te oordeel nie! Dit is nie asof sommige desperaat na Hom roep vir verlossing en Hy hulle verwerp, omdat Hy hulle nie gekies het nie. Dié wat God nie kies nie, gaan voort om presies te doen wat hulle wil—hulle rebelleer teen God en probeer so ver as moontlik van Hom af wegbly. Hy laat hulle eenvoudig voortgaan op die pad wat hulle vryelik en uit eie keuse gekies het. Hy het egter gekies om in die lewens van sommige in te gryp en hulle te oorreed. Hy doen dit, sodat Hy Sy liefde en goedhartigheid aan mense kan wys wat dit nie verdien nie.

Sommige mense dink dat God "kies" op grond van die keuses wat Hy weet die uitverkorenes sal maak: Hy weet wie Christus wel en wie Hom nie sal aanvaar nie, en Hy maak Sy keuse op grond daarvan. Maar dit sou beteken dat mense die uiteindelike keuse maak, en God ons keuse bloot volg. Bybels gesproke is dit andersom. God kies sommiges op grond van Sy eie planne, en dan kies hulle Hom, in reaksie op Sy werk in hulle lewens. Sy keuse is eers en is die grondslag. Sonder God se verkiesing sou niemand ooit na Hom toe draai nie.

Baie Christene deins terug vir die leer van die uitverkiesing die eerste keer dat hulle daarvan hoor. Maar, na verdere besinning, sal die meeste gelowiges erken dat God in hul lewens aan die werk was en hulle na Hom getrek het, lank voordat hulle daarvan eens bewus was. Hulle sal erken dat, as Hy nie ingegryp het nie, hulle in ongeloof sou voortgegaan het. Die hand van God, wat op groot en klein maniere werk, word duideliker in retrospeksie.

Sommiges maak beswaar dat die leer van die uitverkiesing sending- en evangelisasie-aktiwiteite verstik. Immers, as God gekies het om sommige te red, sal hulle gered word of iemand vir hulle die evangelie bring of nie—hoekom moeite doen? Hierdie beswaar faal in die waarheid dat die gehoor en geloof in die evangelie, die middel is wat God gebruik om dié te red wat Hy gekies het om te red. Petrus het in die verkiesing geglo en dit geleer (dit is 'n Nuwe Testamentiese leer), tog was hy yweriger as enigiemand anders in sy sending-ondernemings. Omdat hy geweet het dat God gekies het om mense deur die evangelie te verlos, het Petrus dit met durf verkondig en is daarvoor vervolg. Hy verduidelik: "Ek verdra alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die saligheid kan verkry wat in Christus Jesus is" (2 Timoteus 2:10). Petrus het vervolging verduur, sodat die uitverkorenes gered sal word, omdat die uitverkorenes nie gered kan word, sonder om die evangelie te hoor en te glo nie. Deur evangelisasie laat God mense toe om deel te neem aan Sy groot plan om 'n volk uit elke nasie en taal op aarde na Hom toe te trek. Die leer van die uitverkiesing bevry ons om die evangelie te deel, sonder druk of vrees vir mislukking. Wanneer ons die evangelie duidelik deel, het ons gehoorsaam opgetree, en dit is 'n sukses. Die uitkomste word aan God oorgelaat.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die leer van die uitverkiesing?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries