settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit om Jesus te ken?

Antwoord


Wanneer mense daarvan praat om Jesus te "ken", verwys hulle na 'n verhouding met Hom. Om 'n Christen te wees is meer as om van Jesus te weet; om 'n Christen te wees is om Hom persoonlik te ken. Jesus het oor die noodsaaklikheid gepraat om die Verlosser te ken, toe Hy gebid het: "Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het" (Johannes 17:3).

Dit is een ding om van 'n sportheld te weet, en 'n heel ander ding om 'n vriend van daardie atleet te wees. Jy kan elke nuusartikel oor jou held lees, elke statistiek uit die kop leer, en elke aandenking versamel, maar tog nooit regtig die atleet self ken nie. Om 'n sportheld werklik te ken, sal jy meer moet doen as om hom net te sien speel. Jy sou 'n verhouding met hom moes hê, gebaseer op tyd saam deurgebring en gereelde gesprekke. Wanneer 'n persoon Jesus werklik ken, is dit op grond van 'n verhouding; hulle bring tyd saam deur en gesels gereeld. En wanneer ons Jesus ken, ken ons ook God. "Ons weet . . . dat die Seun van God gekom het en ons die verstand gegee het, sodat ons Hom kan ken wat die waarheid is" (1 Johannes 5:20).

Hoe kan jy Jesus ken? Romeine 10:9 sê: "As jy met jou mond bely dat Jesus Here is en in jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word." Jy moet glo dat Jesus Here is en dat Hy uit die dood opgestaan het. Die rede waarom Hy gesterf het, was om vir jou sonde te betaal (1 Petrus 2:24).

Wanneer jy op Christus vertrou, ontvang jy Jesus en word jy deel van Sy familie (Johannes 1:12). Daarbenewens sê Johannes 3:16 dat jy die ewige lewe ontvang het: "Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê." Hierdie lewe sluit die ewigheid met Christus in die hemel in en is beskikbaar vir jou en vir enigiemand wat in Christus glo.

Efe­siërs 2:8–9 verduidelik hoe verlossing die resultaat van God se goedheid is: "Want uit genade is julle gered deur geloof, en dit kom nie uit julle self nie; dit is 'n gawe van God, nie uit werke nie, sodat niemand kan roem nie." Om Jesus as Verlosser te ken, is nie gebaseer op wat ons doen nie; om Jesus te ken begin met geloof in Hom, en ons voortgesette verhouding met Hom is altyd in geloof gewortel.

Daar is nie 'n spesiale gebed wat jy moet bid om Jesus te leer ken en in Hom te glo nie. Die volgende gebed kan egter nou gebruik word om jou besluit uit te druk, om sodoende jou geloof in Jesus Christus te stel:

"Hemelse Vader, ek besef ek is 'n sondaar en kan nooit die hemel deur my eie goeie dade bereik nie. Nou stel ek my geloof in Jesus Christus as God se Seun wat uit die dood opgestaan het, om vir my die ewige lewe te gee. Vergewe asseblief my sondes en help my om vir U te leef. Dankie dat U my aanvaar en vir my die ewige lewe gegee het."

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit om Jesus te ken?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries