settings icon
share icon
Vraag

Wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die hemel te kom?

Antwoord


Daar is verskeie verskillende denkrigtings oor waaraan Jesus gedink het toe Hy gesê het dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om die ewige lewe te verkry (Matteus 19:24; Markus 10:25; Lukas 18:25). Die Persiërs het die konsep van die onmoontlike uitgedruk deur te sê dit sou makliker wees om 'n olifant deur die oog van 'n naald te sit. Die kameel was 'n Joodse aanpassing (die grootste dier in Israel was 'n kameel).

Sommiges teoretiseer dat die naald waarvan Jesus gepraat het die Naaldpoort was, na bewering 'n lae en smal ingang ná kantoorure wat in die muur rondom Jerusalem gevind was. Dit was doelbewus klein om veiligheidsredes, en 'n kameel kon net daardeur gaan deur alle saaltjies of pakke af te gooi en op sy knieë deur te kruip. Die probleem met hierdie teorie is dat daar geen bewyse is dat so 'n poort ooit bestaan het nie. Boonop, watter gesonde kameelryer sou deur sulke nou gange gaan, wanneer groter poorte maklik toeganklik was?

Ander beweer dat die woord wat met "kameel" vertaal is (Grieks: kamelos) eintlik "kabel" (Grieks: kamilos) behoort te wees. Dan sou die vers lui dat dit makliker is vir 'n kabel (of tou) om deur die oog van 'n naald te gaan. Om dit egter te glo, skep meer probleme as wat dit oplos, naamlik dat dit twyfel werp op die onfeilbaarheid en inspirasie van die Skrif.

Die mees waarskynlike verklaring is dat Jesus hiperbolies gepraat het, 'n vorm van spraak wat beklemtoning oordryf. Jesus het hierdie tegniek ook op ander geleenthede gebruik, soos om na 'n "plank" in iemand se oog te verwys (Matteus 7:3-5) en om 'n kameel in te sluk (Matteus 23:24).

Jesus se boodskap is duidelik—dit is onmoontlik vir enigiemand om op sy eie meriete gered te word. Aangesien rykdom as bewys van God se goedkeuring beskou is, is dit algemeen deur die rabbi's geleer dat rykes deur God geseën is en dus die mees waarskynlike kandidate vir die hemel was. Jesus het daardie opvatting vernietig, en daarmee saam die idee dat iemand die ewige lewe kan verdien. Die dissipels het die gepaste reaksie op hierdie verstommende stelling gehad. Hulle was ten volle verbaas en het in die volgende vers gevra: "Wie kan dan gered word?" As die rykes onder hulle, wat die uitermate geestelike Fariseërs en skrifgeleerdes ingesluit het, onwaardig vir die hemel was, wat was dan die hoop vir 'n arm mens?

Jesus se antwoord is die grondslag van die evangelie: "By die mens is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik" (Mattheüs 19:26). Mense word gered deur God se gawes van genade, barmhartigheid en geloof (Efe­siërs 2:8-9). Niks wat ons doen, verdien verlossing vir ons nie. Dit is die armes in gees wat die koninkryk van God erf (Matteus 5:3), dié wat hul geestelike armoede en hul volstrekte onvermoë om enigiets te doen om hulleself voor 'n heilige God te regverdig, erken. Die ryk man is so dikwels blind vir sy geestelike armoede, omdat hy trots is op sy prestasies en homself met sy rykdom tevrede gestel het. Die waarskynlikheid om homself voor God te verootmoedig, kan vergelyk word met 'n kameel wat deur die oog van 'n naald kan kruip.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die hemel te kom?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries