settings icon
share icon
Vraag

As ek met 'n gewoonte-sonde worstel, beteken dit dan dat ek nie gered is nie?

Antwoord


Aan hierdie kant van die hemel sal elke Christen met sonde worstel. Die apostel Johannes skryf aan gelowiges van elke geslag: "As ons beweer dat ons geen sonde het nie, mislei ons net onsself en leef ons nie in die waarheid nie" (1 Johannes 1:8, NLT, sien ook 1 Johannes 1:10). As Christene bestem was om nooit met sonde te worstel nie, sou Jesus nie vir Sy volgelinge geleer het om te bid: "Vergeef ons ons sondes, soos ons dié vergewe het wat teen ons oortree" (Matteus 6:12, NLT) nie. Die goeie nuus is, dat, al sondig ons nog steeds, ons ons sondes aan die Here kan bely, Sy vergifnis en reiniging kan ontvang, en in gemeenskap met God kan bly (sien 1 Johannes 1:9).

Die Bybel wys duidelik dat Christene ná verlossing steeds sondig. Niemand is perfek nie. Jakobus skryf: "In werklikheid maak ons almal baie foute. As ons immers ons tonge kan beheer, sou ons volmaak wees en ook in elke ander opsig onsself kan beheer" (Jakobus 3:2, NLT; sien ook Filippense 3:12; Jakobus 3:8; 4:17). Die skrywer van Hebreërs beskryf die gelowige se stryd met gewoonte-sonde en die behoefte om "elke las wat ons vertraag, af te lê, veral die sonde wat so maklik ons laat struikel" (Hebreërs 12:1, NLT). In Romeine 7:14–25 skryf die apostel Paulus openlik en eerlik oor sy stryd met sonde: "Die moeite lê by my, want ek is al te menslik, 'n slaaf van die sonde. Ek verstaan my eintlik nie, want ek wil graag doen wat reg is, maar ek doen dit nie. In plaas daarvan doen ek wat ek haat" (verse 14–15, NLT).

Gewoonte-sonde sal nie veroorsaak dat ons ons saligheid verloor of ons uit die hemel hou nie, maar dit kan ons gemeenskap met God belemmer as ons nie nederig bely en voortdurend na herstel streef nie. Terwyl ons met sonde worstel in ons Christelike wandel, moet ons nooit die stryd opgee of toegee aan ons sondige begeertes nie. As ons behoorlik toegerus wil wees vir die stryd, help dit om te verstaan wat met ons gebeur wanneer ons gered word. Sodra ons ons geloof in Jesus Christus stel en Sy verlossing ontvang, word ons nuwe skepsels in Christus Jesus. Ons ou lewe van sonde is dood en weg, en 'n nuwe lewe begin (2 Korintiërs 5:17; Romeine 6:4). Terselfdertyd begin ons net 'n geestelike groeiproses, wat heiligmaking genoem word.

Op die oomblik van verlossing gee God vir ons die Heilige Gees om 'n interne werk te begin, om ons na die beeld van Sy Seun te verander (sien Romeine 8:29; 1 Tessalonisense 4:3). Hy begin om ons meer en meer soos Jesus te maak, en Hy voer die werk deur ons hele lewe lank uit (Filippense 1:6). Dit is 'n stadige vooruitgang van "verander word na sy beeld, met steeds toenemende heerlikheid, wat van die Here af kom, wat die Gees is" (2 Korintiërs 3:18). Die proses sal nie voltooi wees, totdat ons Jesus van aangesig tot aangesig sien nie (1 Johannes 3:2). Eers dan sal ons stryd met sonde ophou.

God doen die werk, maar ons moet onsself in Sy hande oorgee en met Hom saamwerk. (Matteus 26:41; Lukas 12:15; 1 Petrus 5:6–11; Jakobus 4:7). Petrus moedig alle gelowiges aan om "na die wenstreep toe te jaag" van Christelike volwassenheid (Filippense 3:12–14). Om 'n leefstyl van gewoonte-sonde na te streef, sal ons vermoë belemmer om in die lig, genade en vryheid te leef wat Jesus Christus vir ons beoog het (sien Romeine 6:11–14; 13:12–14). Ons kan nie toelaat dat skuld oor sonde ons uit die stryd neem nie (Romeine 8:1–17), en ons mag ook nie toelaat dat God se genade om ons sondes te vergewe, ons in 'n hardvogtige ongevoeligheid inwieg, met die gevoel dat ons maar kan aanhou sondig nie (Romeine 6:1–14).

Johannes dring aan: "My liewe kinders, ek skryf hierdie aan julle, sodat julle nie sal sondig nie. Maar as iemand wel sondig, het ons 'n Voorspraak by die Vader: Jesus Christus, die Regverdige. Hy self is die offer wat vir ons sondes versoening doen — en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld" (1 Johannes 2:1–2, NLT).

God het vir ons, Jesus Christus gegee om vir ons in te tree. Selfs wanneer ons ons bes doen om nie te sondig nie, skiet ons soms tekort. Wanneer ons faal, moet ons onthou dat nie alles verlore is nie. Jesus staan voor die Vader en bepleit ons saak. Hy "verstaan ons swakhede, want hy het al dieselfde versoekings as ons teëgekom, tog het hy nie gesondig nie" (Hebreërs 4:15, NLT). Ons kan na Jesus toe kom en barmhartigheid en genade vind om ons te help in ons stryd teen gewoonte-sonde (sien Hebreërs 4:16). Hy het die prys en die straf vir ons sondes betaal, insluitend dié wat ná ons verlossing gepleeg word (2 Korintiërs 5:21; Romeine 3:25; Kolossense 2:13–14; Hebreërs 9:28; 1 Petrus 2:24).

Die Skrif leer ons om eerlik met onsself en God te wees oor ons stryd teen sonde, en te erken dat ons nie in staat is om die stryd in ons eie krag en mag te oorwin nie. Ons kan slegs oorwin deur op die krag van God se Heilige Gees te vertrou, die Gees toe te laat om ons lewens te lei (Galasiërs 5:16), en deur in die Gees te wandel en te leef (Galasiërs 5:25), en te probeer om nie die werk van die Gees te blus nie (1 Tessalonisense 5:19; Efe­siërs 4:30), maar eerder daarna streef om met die Gees vervul te word, ons ten volle aan Sy beheer oorgee (Efe­siërs 5:15–20).

Ons kan die Here vra om ons te dissiplineer op watter wyse ook al nodig is, om enige gewoonte-sondes in ons lewens te oorkom. Ons kan slim en op ons hoede wees in ons stryd teen sonde (2 Petrus 3:17; Romeine 6:12–14), versoekings weerstaan (Hebreërs 12:4; Jakobus 4:7), versoekings vermy (1 Tessalonisense 5:22), op God se Woord staan (Matteus 4:4; 2 Timoteus 3:16), en die ontsnappingsweg soek wat God voorsien (1 Korintiërs 10:13). Dit mag 'n leeftyd neem, maar deur God se genade sal ons voortgesette, groeiende oorwinning oor die sonde ervaar.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

As ek met 'n gewoonte-sonde worstel, beteken dit dan dat ek nie gered is nie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries