Vraag
Waarom het die offersisteem 'n bloedoffer vereis?
Antwoord
Die hele Ou Testament, elke boek, wys na die Groot Offer wat sou kom — die Liefdesoffer van Jesus, Sy offerande van Sy eie lewe namens ons. Levitikus 17:11 is die Ou Testament se sentrale stelling oor die betekenis van bloed in die offersisteem. God, wat met Moses spreek, verklaar: "Want die lewe van 'n dier is in die bloed, en Ek het dit aan julle gegee om julle self op die altaar te versoen; dit is die bloed wat vir die lewe versoening doen."
'n "Offer" word gedefinieer as die opoffering van iets kosbaars vir 'n saak of rede. Versoening doen, beteken om iemand of iets tevrede te stel vir 'n oortreding wat gepleeg is. Die Levitikusvers kan nou duideliker gelees word: God het gesê: "Ek het dit aan julle gegee (die lewe van die skepsel, wat in sy bloed is) om vir julleself versoening te doen (om die oortreding wat julle teen My begaan het, te bedek)." Met ander woorde, dié wat deur die bloedoffer bedek word, word vrygestel van die gevolge van sonde.
Natuurlik het die Israeliete nie persoonlik van Jesus geweet nie, of hoe Hy namens hulle sou sterf en dan weer sou opstaan, maar hulle het wel geglo dat God vir hulle 'n Verlosser sou stuur. Al die baie, baie bloedoffers wat deur die Ou Testament gebring was, het die ware, eenmalige offer wat sou kom, voorafgegaan, sodat die Israeliete nooit sou vergeet dat daar sonder die bloed geen vergifnis is nie. Hierdie bloedvergieting is 'n plaasvervangende handeling. Daarom kan die laaste klousule van Levitikus 17:11 óf gelees word as "die bloed 'versoen' in plek van die lewe" (d.w.s. die dier se lewe) óf "versoen in die plek van die lewe" (d.w.s. die sondaar se lewe, met Jesus Christus as die Een wat lewe gee deur Sy gestorte bloed).
Hebreërs 9:11-18 bevestig die simboliek van bloed as lewe en pas Levitikus 17:11 toe op die offer van die Here Jesus Christus. Vers 12 stel duidelik dat die bloedoffers van die Ou Testament tydelik was en slegs gedeeltelik en vir 'n kort tydjie vir sonde versoening gedoen het, wat die behoefte daarstel om die offers jaarliks te herhaal. Maar toe Christus die Allerheiligste binnegegaan het, het Hy dit gedoen om Sy eie bloed eenmalig aan te bied, waardeur toekomstige offers onnodig gemaak is. Dit is wat Jesus met Sy sterwendeswoorde aan die kruis bedoel het: "Dit is volbring" (Johannes 19:30). Nooit weer sou die bloed van stiere en bokke, mense van hul sonde reinig nie. Slegs deur Jesus se bloed te aanvaar, wat aan die kruis vergiet is vir die vergewing van sondes, kan ons voor God staan, bedek in die regverdigmaking van Christus (2 Korintiërs 5:21).
English
Waarom het die offersisteem 'n bloedoffer vereis?