Vraag
Wat was die Ou-Testamentiese manier van verlossing?
Antwoord
Hoe mense gedurende die tyd van die Ou Testament gered is, is vir sommige 'n verwarrende vraag. Ons weet dat, in die Nuwe Testamentiese era, verlossing uit genade kom, deur geloof in Jesus Christus (Johannes 1:12; Efesiërs 2:8-9). Jesus is die Weg (Johannes 14:6). Maar, voor Christus, wat was die weg?
'n Algemene mistasting oor die Ou Testamentiese manier van verlossing, is dat die Jode gered is deur die Wet te onderhou. Maar ons weet uit die Skrif dat dit nie waar is nie. Galasiërs 3:11 sê: "En dit is duidelik dat niemand deur die wet voor God regverdig word nie, want 'Die regverdige sal deur geloof lewe.'" Sommiges wil dalk hierdie gedeelte afmaak asof dit net op die Nuwe Testament van toepassing is, maar Paulus haal Habakuk 2:4 aan—redding deur geloof, los van die Wet, was 'n Ou Testamentiese beginsel. Paulus het geleer dat die doel van die Wet was, om as 'n "tutor" te dien om ons na Christus te bring, sodat ons deur geloof geregverdig kan word (Galasiërs 3:24). Ook maak Paulus in Romeine 3:20 die punt dat die nakoming van die Wet nie Ou of Nuwe Testamentiese Jode gered het nie, omdat "geen mens deur die wet voor Hom regverdig verklaar sal word nie." Die Wet was nooit bedoel om iemand te red nie; die doel van die Wet was om ons "bewus te maak van sonde."
As die Ou Testamentiese manier van verlossing nie die nakoming van die Wet was nie, hoe is mense dan gered? Gelukkig is die antwoord op daardie vraag maklik in die Skrif te vind, sodat daar geen twyfel kan wees oor wat die Ou Testamentiese manier van verlossing was nie. In Romeine 4 maak die apostel Paulus dit baie duidelik dat die Ou Testamentiese manier van verlossing dieselfde was as die Nuwe Testamentiese manier, naamlik alleen uit genade, alleen deur geloof, in Christus alleen. Om dit te bewys, wys Paulus vir ons na Abraham, wat deur geloof gered is: "Abraham het in God geglo, en dit is hom as regverdig toegereken" (Romeine 4:3). Weereens haal Paulus die Ou Testament aan om sy punt te bewys – hierdie keer Genesis 15:6. Abraham kon nie deur die onderhouding van die Wet gered gewees het nie, want hy het meer as 400 jaar geleef voordat die Wet gegee is!
Paulus wys dan dat Dawid ook deur geloof gered is (Romeine 4:6-8, met 'n aanhaling uit Psalm 32:1-2). Paulus gaan voort om te bewys dat die Ou Testamentiese manier van verlossing deur geloof alleen was. In Romeine 4:23-24 skryf hy: "Die woorde 'dit is hom toegereken' is nie net vir hom geskryf nie, maar ook vir ons, aan wie God regverdigheid sal toereken—vir ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het." Met ander woorde, regverdigheid word "toegereken" of gegee aan dié wat geloof in God het—Abraham, Dawid, en ons almal deel dieselfde weg van verlossing.
'n Groot deel van Romeine en Galasiërs handel oor die feit dat daar net een weg tot verlossing is en net een evangelieboodskap. Deur die geskiedenis heen het mense probeer om die evangelie te verdraai deur menslike werke daaraan toe te voeg en vereis dat sekere dinge gedoen moet word om verlossing te "verdien". Maar die Bybel se duidelike boodskap is dat die weg tot verlossing nog altyd deur geloof was. In die Ou Testament was dit geloof in die belofte dat God eendag 'n Verlosser sou stuur. Diegene wat in die tyd van die Ou Testament geleef het, het uitgesien na die Messias en geglo in God se belofte van die komende Dienaar van die Here (Jesaja 53). Diegene wat so 'n geloof beoefen het, is gered. Vandag kyk ons terug op die lewe, dood en opstanding van die Verlosser en word ons gered deur geloof in Jesus Christus se versoening vir ons sondes (Romeine 10:9-10).
Die evangelie is nie 'n uitsluitlike Nuwe Testamentiese boodskap nie. Die Ou Testament het dit ook bevat: "Die Skrif het voorsien dat God die heidene deur geloof sou regverdig, en het die evangelie vooraf aan Abraham verkondig: 'In jou sal al die nasies geseën word.' Die wat dus uit geloof lewe, is saam met Abraham geseën, die man van geloof" (Galasiërs 3:8-9, met aanhaling uit Genesis 12:3).
So vroeg as Genesis 3:15 sien ons die belofte van 'n komende Verlosser, en regdeur die Ou Testament is daar honderde beloftes dat die Messias "Sy volk van hulle sondes sou verlos" (Matteus 1:21; vergelyk Jesaja 53:5-6). Job se geloof was in die feit dat hy geweet het dat sy "Verlosser leef, en dat Hy uiteindelik op die aarde sal staan" (Job 19:25). Duidelik was die heiliges van die Ou Testament bewus van die beloofde Verlosser, en hulle is gered deur geloof in daardie Verlosser, op dieselfde wyse as wat mense vandag gered word. Daar is geen ander manier nie. Jesus is "'die steen wat julle bouers verwerp het, wat 'n hoeksteen geword het.' In niemand anders is daar verlossing nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat aan die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie" (Handelinge 4:11-12, met aanhaling uit Psalm 118:22).
English
Wat was die Ou-Testamentiese manier van verlossing?