settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit dat Christene deur God aangeneem word?

Antwoord


Om iemand aan te neem, beteken om daardie persoon 'n wettige seun of dogter te maak. Aanneming is een van die metafore wat in die Bybel gebruik word om te verduidelik hoe Christene in die familie van God gebring word. Jesus het gekom "sodat ons tot kndskap aangeneem kan word" (Galasiërs 4:5), en Hy was suksesvol: "Julle het God se Gees ontvang, toe Hy julle as sy eie kinders aangeneem het" (Romeine 8:15, NLT).

Die Bybel gebruik ook die metafoor om "opnuut gebore te word" in God se familie (Johannes 3:3), wat skynbaar in stryd is met die konsep van aanneming, omdat 'n mens normaalweg óf in 'n familie gebore word óf aangeneem word, nie albei nie. Ons moet egter nie te veel klem op die verskil plaas nie, want albei hierdie konsepte is metafore en behoort nie teen mekaar opgewéég te word nie.

Aanneming was nie algemeen in die Joodse wêreld nie. 'n Persoon se posisie was gebaseer op sy geboorte. Dit is die rede waarom, as 'n man gesterf het, sy broer die weduwee moes trou. Die eerste seun wat uit die nuwe huwelik gebore is, sou wettiglik as die seun van die oorlede broer beskou word, sodat sy geslagslyn sou voortgaan. Daar is nooit daaraan gedink dat die weduwee 'n seun sou aanneem, om die familienaam voort te sit nie. In Johannes 3 praat Jesus met Nikodemus, 'n Joodse leier, en Hy gebruik die Joodse konsep van weergebore word (of van bo gebore word) om te verduidelik hoe 'n mens in God se familie ingebring word.

In die Romeinse wêreld was aanneming 'n beduidende en algemene praktyk. Vandag kan ons 'n testament opstel en ons rykdom en eiendom aan enigiemand wat ons wil, manlik of vroulik, nalaat. In die Romeinse wêreld, met min uitsonderings, moes 'n man sy rykdom aan sy seun(s) oordra. As 'n man geen seuns gehad het of as hy gevoel het dat sy seuns nie in staat was om sy rykdom te bestuur of daarvoor te onwaardig was, moes hy iemand aanneem wat 'n waardige seun sou wees. Hierdie aannemings was nie baba-aannemings soos wat vandag algemeen is nie. Ouer seuns en volwasse mans is gewoonlik aangeneem. In sommige gevalle kon die aangenome selfs ouer wees as die man wat hom aangeneem het. Toe die aanneming wettiglik goedgekeur is, is al sy skulde kwytgeskel en het hy 'n nuwe naam ontvang. Hy sou die wettige seun van sy aangenome vader wees en geregtig op al die regte en voordele van 'n seun. 'n Vader kon sy biologiese seun verwerp, maar 'n aanneming was onomkeerbaar.

In die boek "Ben-Hur: A Tale of the Christ" en die rolprent met Charlton Heston in die hoofrol, sien ons 'n lewendige uitbeelding van Romeinse aanneming. In die rolprent word Judah Ben-Hur ('n Jood) as roeier op 'n Romeinse galei-skip, gevange gehou. Wanneer die skip in 'n geveg sink, ontsnap Judah en red hy die lewe van 'n Romeinse bevelvoerder, Arrius. Arrius se enigste seun is doodgemaak, en hy neem uiteindelik Judah aan, wat vir sy veronderstelde misdade kwytgeskel word. Hy kry ook 'n nuwe naam, "jong Arrius," en het al die regte op erfenis. In die toneel waar die aanneming aangekondig word, haal Arrius sy familiewapen af en gee dit aan jong Arrius. Jong Arrius sê dat hy "'n nuwe lewe, 'n nuwe tuiste, 'n nuwe vader" ontvang het.

Paulus, wat aan Romeinse gehore skryf, gebruik die metafoor van aanneming, wat 'n Romeinse gehoor sou verstaan het. Galasiërs 4:3–7 sê: "So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die elementêre beginsels van die wêreld. Maar toe die volheid van die tyd aangebreek het, het God sy Seun gestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die Wet, om dié wat onder die Wet was, los te koop, sodat ons die aanneming as seuns kon ontvang. En omdat julle seuns is, het God die Gees van sy Seun in ons harte uitgestuur, wat uitroep: 'Abba, Vader!' Julle is dus nie meer 'n slaaf nie, maar 'n seun; en aangesien julle 'n seun is, is julle ook 'n erfgenaam deur God." In hierdie gedeelte word Christene as slawe gebore, maar Jesus koop hulle uit die slawerny en hulle word deur die Vader aangeneem en ontvang die Gees, sodat hulle nou erfgename is.

Wanneer ons tot geloof in Christus kom, word ons skulde gekanselleer, ons kry 'n nuwe naam, en ons ontvang al die regte wat God se erfgename besit. Een verskil met Romeinse aanneming is dat Christene nie aangeneem word, omdat God dink hulle sal waardige erfgename uitmaak nie. God neem mense aan, wat totaal onwaardig is, omdat Hy op grond van Sy genade aanneem.

Christene is dus in God se familie gebore (om 'n Joodse metafoor te gebruik) en in God se familie aangeneem (om 'n Romeinse metafoor te gebruik). Die eindresultaat is dieselfde; Christene is vir ewig deel van God se familie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit dat Christene deur God aangeneem word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries