settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit om God te vrees?

Antwoord


Vir die ongelowige beteken vrees vir God die vrees vir God se oordeel en die ewige dood, wat ‘n ewige skeiding met God is (Lukas 12:5; Hebreërs 10:31). Vir die gelowige is die vrees vir God iets baie anders. Die gelowige se vrees is eerbied en ontsag vir God. Hebreërs 12:28-29 is ‘n goeie beskrywing hiervan: “Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ‘n verterende vuur.” Hierdie eerbied en ontsag is presies wat die vrees vir God vir Christene beteken. Dit is die dryfveer vir ons oorgawe aan die Skepper van die Heelal.

Spreuke 1:7 sê, “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis.” Totdat ons verstaan wie God is en ‘n eerbiedige vrees vir Hom ontwikkel, kan ons nie ware wysheid verkry nie. Ware wysheid kom slegs van begrip wie God is en dat Hy heilig is, billik, en regverdig. Deuteronomium 10:12, 20-21 meld, “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al Sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel. Die HERE jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en by Sy Naam sweer. Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het.” Die vrees vir God is die grondslag waarop ons in Sy weë wandel, Hom dien, en ja, Hom lief het.

Sommige herverklaar die vrees vir God van gelowiges na “respek” vir Hom. Terwyl respek beslis ingesluit is in die begrip vrees vir God, omvat dit meer as dit. ‘n Bybelse vrees vir God, vir die gelowige, omvat ook die begrip van hoeveel God die sonde haat en die vrees vir Sy oordeel daaroor—selfs in die lewe van ‘n gelowige. Hebreërs 12:5-11 beskryf God se tug van die gelowige. Alhoewel dit in liefde gedoen word (Hebreërs 12:6), is dit steeds iets om te vrees. Kinders se vrees vir tug deur hulle ouers het sonder twyfel al verkeerde gedrag voorkom. Dieselfde behoort waar te wees van ons verhouding met God. Ons behoort Sy tug te vrees, en moet daarom daarna streef om ons lewens so te lei dat dit Hom behaag.

Gelowiges is nie bang vir God nie. Ons het geen rede om vir Hom bang te wees nie. Ons het Sy belofte dat niks ons kan skei van Sy liefde vir ons nie (Romeine 8:38-39). Ons het Sy belofte dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie (Hebreërs 13:5). Vrees vir God beteken om so ‘n groot eerbied en ontsag vir Hom te hê dat dit ‘n wesenlike invloed het op die wyse waarop ons lewe. Vrees vir God is respek vir Hom, gehoorsaamheid aan Hom, onderwerping aan Sy tug, en om Hom met eerbied en ontsag te aanbid.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit om God te vrees?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries