settings icon
share icon
Vraag

Hoe verdeel God geestelike gawes? Sal God vir my die geestelike gawe gee waarvoor ek vra?

Antwoord


Rom 12:3-8 en 1 Kor 12 stel dit duidelik dat elke Christen geestelike gawes volgens die Here se keuse, ontvang. Geestelike gawes word gegee om die liggaam van Christus geestelik op te bou (1 Kor 12:7, 14:12). Die presiese tyd wanneer hierdie gawes gegee word, word nie regtig genoem nie. Die meeste mense is van mening dat hierdie gawes saam met geestelike geboorte (die oomblik van redding) ontvang word. Daar is egter verse wat aandui dat God geestelike gawes op ‘n later stadium ook uitdeel. Beide 1 Tim 4:14 en 2 Tim 1:6 verwys na ‘n gawe wat Timoteus tydens sy ordening deur ‘n profetiese boodskap ontvang het. Dit dui aan dat een van die ouderlinge, teenwoordig by Timoteus se ordening, gepraat het van ‘n geestelike gawe wat Timoteus kon help in sy toekomstige bediening.

In 1 Kor 12:28-31 en in 1 Kor 14:12-13 word gesê dat dit God is wat die gawes kies, nie ons nie. Hier word dit ook bekend gemaak dat nie elkeen ‘n spesifieke gawe sal hê nie. Paulus vertel aan die Korintiese gelowiges dat as hulle geestelike gawes begeer of daarna hunker, moet hulle na die meer opbouende gawes streef, soos profesie (verkondiging van God se boodskap vir die opbou van ander). Waarom sou Paulus sê dat hulle die “groter” gawes moet begeer, as hul reeds ontvang het wat hul moes kry. Dan was daar mos geen verdere rede om hierdie groter gawes na te jaag nie? Dit kan daartoe lei, dat selfs as Salomo wysheid van God gevra het om ‘n beter koning te wees oor God se mense, God dan ook aan diegene wat gawes benodig, wat tot groter voordeel van Sy kerk sal strek, sal skenk.

Na aanleiding van wat nou gesê is, is dit nog steeds so dat God self besluit, nie ons nie. Indien elkeen in Korinte ‘n spesifieke gawe sou begeer, byvoorbeeld profesie, sou God dit nie gee slegs omdat hul dit erg begeer het nie. As Hy dit sou doen, wie sou dan in al die ander funksies van die liggaam van Christus dien?

Daar is een ding wat baie duidelik is – as God ‘n opdrag gee, gee Hy ook die bekwaamheid daarvoor (soos om ‘n getuie te wees, liefde te gee aan hul wat geen liefde ontvang nie, om die nasies van God te vertel, ens.). Hy sal ons daarvoor toerus. Sommige sal nie so begaafd wees om te evangeliseer, soos ander nie, maar God gee aan alle Christene die opdrag om te getuig en lering te gee (Matt 28-18-20, Hand 1:8). Ons is almal geroep om te evangeliseer, ongeag of ons die geestelike gawe van evangelisasie ontvang het. ‘n Vasberade Christen wat daarna strewe om die Woord te bestudeer en ook sy onderrigvermoë te verbeter, kan ‘n beter leermeester word as iemand wat wel die geestelike gawe van onderrig ontvang het, maar dit verwaarloos.

Word geestelike gawes aan ons gegee wanneer ons Christus aanneem of ontwikkel hulle soos ons ‘n pad saam met God stap? Die antwoord is beide. Normaalweg word geestelike gawes saam met redding gegee, maar dit moet ook deur geestelike groei gekweek word. Kan ‘n hartsbegeerte so nagestreef word dat dit ontwikkel in jou geestelike gawe? Kan jy sekere geestelike gawes najaag? 1 Kor 12:31 dui aan dat dit moontlik kan wees: “Lê julle toe op die beste genadegawes.”

Jy kan ‘n geestelike gawe by God soek en vurig daarna strewe en daardie area ontwikkel. Terselfdertyd, as dit nie God se wil is nie, sal jy dit nie ontvang nie – maak nie saak hoe ernstig jy daarna soek nie. God is oneindig in wysheid en Hy weet in watter gawe jy die produktiefste in Sy koninkryk sal optree.

Dit maak nie saak hoe talentvol ons in een of ander gawe is nie, ons is almal geroep om, van die areas genoem in die lys van geestelike gawes, te ontwikkel: om vriendelik te wees, om genade te betoon, om mekaar te dien, om te evangeliseer, ens. Terwyl ons God in liefde dien en wel met die doel om ander op te bou tot Sy eer, sal Hy daardeur Sy Naam grootmaak, Sy kerk sal groei en Hy sal ons beloon (1 Kor 3:5-8, 12:31-14:1). God belowe dat as ons ons in Hom verheug, sal Hy ons die begeertes van ons hart gee (Ps 37:4-5). Dit sal sekerlik ook voorbereiding tot diens in Sy koninkryk insluit, wat dan weer aan ons ‘n doel en bevrediging gee.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe verdeel God geestelike gawes? Sal God vir my die geestelike gawe gee waarvoor ek vra?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries