settings icon
share icon
Vraag

Wat is oop teïsme?

Antwoord


“Oop teïsme”, ook bekend as “oop teologie” en die “oopheid van God,” is ‘n poging om die voorkennis van God in verhouding met die mens se vrye wil te verklaar. Die argument vir oop teïsme is hoofsaaklik dit: mense is waarlik vry; as God die toekoms volkome geken het, kon die mens nie waarlik vry wees nie. Dus, God weet nie heeltemal alles omtrent die toekoms nie. Oop teïsme is van mening dat die toekoms nie geken kan word nie. Derhalwe weet God alles wat geken kan word, maar Hy ken nie die toekoms nie.

Oop teïsme baseer hierdie oortuiging op Skrifgedeeltes wat beskryf hoe God “Sy mening verander” of “verbaas is” of “skynbaar kennis verwerf” (Genesis 6:6; 22:12; Exodus 32:14; Jona 3:10). In die lig van die baie ander Skrifgedeeltes wat God se kennis van die toekoms bekend maak, moet die aangehaalde Skrifgedeeltes so verstaan word dat God Homself aan ons uitdruk op maniere wat ons kan begryp. God weet wat ons gaan doen en gaan besluit, maar Hy “verander Sy mening” met betrekking tot Sy handelinge gebaseer op ons handelinge. God se teleurstelling in die boosheid van die mens beteken nie dat Hy nie geweet het dat dit gaan plaasvind nie.

In teenstelling met oop teïsme, verklaar Psalm 139:4, 16, “Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, HERE, U ken dit geheel en al… en in U boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” Hoe kan God ingewikkelde besonderhede omtrent Jesus Christus in die Ou Testament voorspel as Hy nie die toekoms ken nie? Hoe kan God ons ewige verlossing op enige wyse waarborg as Hy nie weet wat die toekoms inhou nie?

Ten laaste, oop teïsme faal daarin omdat dit poog om die onverklaarbare te verklaar – die verhouding tussen God se voorkennis en die mensdom se vrye wil. Net soos die uiterste vorms van Calvinisme faal omdat hulle van mense niks meer maak as vooraf geprogrammeerde robotte nie, so faal oop teïsme omdat dit God se waaragtige alwetendheid en oppergesag verwerp. God moet deur geloof verstaan word, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6a). Oop teïsme is dus nie Skriftuurlik nie. Dit is eenvoudig ‘n ander manier vir die beperkte mens om die Oneindige God te probeer verstaan. Oop teïsme moet deur die volgelinge van Christus verwerp word. Terwyl oop teïsme ‘n verduideliking is vir die verhouding tussen God se voorkennis en menslike vrye wil, is dit nie ‘n Bybelse verduideliking nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is oop teïsme?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries