settings icon
share icon
Vraag

Waarom is God ‘n jaloerse God?

Antwoord


Dit is belangrik om te verstaan hoe die woord “jaloers” gebruik is. Die gebruik daarvan in Exodus 20:5 om God mee te beskryf verskil van die gebruik daarvan om die sonde van jaloesie te beskryf (Galasiërs 5:20). Wanneer ons die woord “jaloers” gebruik, gebruik ons dit in die sin van afgunstig wees teenoor ‘n ander persoon wat iets het wat ons nie het nie. ‘n Persoon kan jaloers of afgunstig wees op ‘n ander persoon omdat hy of sy ‘n mooi kar of huis het (besittings). Of ‘n persoon kan jaloers of afgunstig wees op ‘n ander persoon oor ‘n sekere vermoë of talent wat die ander persoon het (soos om atleties te wees). Nog ‘n voorbeeld is dat ‘n persoon jaloers of afgunstig op ‘n ander persoon kan wees vanweë sy of haar aantreklikheid.

In Exodus 20:5 is God nie jaloers of afgunstig omdat iemand iets het wat Hy wil hê of nodig het nie. Exodus 20:4-5 sê, “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God…” Neem kennis dat God jaloers is wanneer iemand iets aan ‘n ander gee wat tereg aan Hom behoort.

In hierdie verse praat God van mense wat afgode maak en voor hulle neerbuig en hulle dien in plaas daarvan om aan God die aanbidding te gee wat Hom alleen toekom. God is besitlik oor die aanbidding en diens wat Hom toekom. Dit is ‘n sonde (soos God in hierdie gebod aantoon) om enigiets anders te aanbid of te dien behalwe vir God. Dit is ‘n sonde wanneer ons begeer, of afgunstig is, of jaloers is op iemand wat iets het wat ons nie het nie. Dit is ‘n ander gebruik van die woord “jaloers” wanneer God sê Hy is jaloers. Waaroor Hy jaloers is behoort aan Hom; aanbidding en diens behoort aan Hom alleen, en moet aan Hom alleen gegee word.

‘n Praktiese voorbeeld sal help om die verskil beter te verstaan. As ‘n man sien dat ‘n ander man by sy vrou aanlê, is hy geregtig daarop om jaloers te voel, want net hy het die reg om met sy vrou te flankeer. Hierdie tipe jaloesie is nie sonde nie. Dit is in teendeel heeltemal toepaslik. Om jaloers te wees oor iets wat met God se goedkeuring aan jou behoort, is goed en reg. Jaloesie is ‘n sonde wanneer dit ‘n begeerte is na iets wat nie aan jou behoort nie. Aanbidding, lof, eer, en bewondering behoort aan God alleen, want net Hy alleen is dit waaragtig waardig. Daarom, God is met reg jaloers wanneer aanbidding, lof, eer, en bewondering aan afgode betoon word. Dit is presies die jaloesie wat die apostel Paulus in 2 Korinthiërs 11:2 beskryf, “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid…”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom is God ‘n jaloerse God?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries