settings icon
share icon
Vraag

Wat is goddelike voorsiening?

Antwoord


Goddelike voorsiening is die manier waarop God alles in die heelal bestuur. Dit beteken dat God in algehele beheer van alles is. Dit sluit die heelal as geheel in (Ps. 103:19), die fisiese wêreld (Matt 5:45), die aangeleenthede van volke (Ps. 66:7), menslike geboorte en bestemming (Gal 1:15), menslike suksesse en mislukkings (Luk 1:52) en die beskerming van Sy volk (Ps. 4:8). Hierdie lering staan in direkte teenstelling teenoor die idee dat die heelal deur toeval of noodlot bestuur word.

Die doel van goddelike voorsiening is om die wil van God te volbring. Om te verseker dat Sy doelwitte vervul word, regeer God oor die aangeleenthede van mense en werk Hy op natuurlike wyse en orde. Die wette van die natuur is niks meer as ‘n uitbeelding van God, werksaam in die natuur nie. Die wette van die natuur het geen inherente krag nie en werk ook nie onafhanklik nie. Die wette van die natuur is die reëls en beginsels wat God in plek gesit het, om te bestuur hoe dinge werk.

Dieselfde geld vir menslike keuses. In die ware sin van die woord is ons nie vry om buite God se wil te handel of te kies nie. Alles wat ons doen en kies is in volle ooreenkoms met God se wil – selfs ons sondige keuses (Gen. 50:20). Die deurslaggewende is dat God ons keuses en handelinge beheer (Gen. 45:5; Deut. 8:18; Spreuke 21:1), tog doen Hy dit op so `n manier dat dit nie ons verantwoordelikheid as vrye morele wesens skend nie en ook nie die realiteit van ons keuse weerspreek nie.

Die lering van goddelike voorsiening kan as volg opgesom word: “Die God wat van ewigheid bestaan, beskik volgens die raadsplan van Sy eie wil, oor alle gebeurlikhede; tog is God geensins die ontwerper van sonde nie; ook is menslike verantwoordelikheid nie weggeneem nie.” Die primêre wyse hoe God Sy wil bereik, is deur sekondêre oorsake (bv. wette of natuur, menslike keuse). God werk dus indirek deur hierdie sekondêre oorsake om Sy wil te bereik.

God werk ook soms direk om Sy wil te bereik. Al hierdie werke noem ons wonderwerke (bonatuurlike gebeure). ‘n Wonderwerk is God wanneer God vir ‘n kort tydjie die natuurlike verloop van dinge versteur om Sy wil en doel te bereik. Daar is twee voorbeelde in Handelinge 9, die bekering van Saulus van Tarsis. In ‘n verblindende lig en ‘n stem wat net Saulus/Paulus kon hoor, het God sy lewe vir ewig verander. Dit was God se wil om vir Paulus verder te gebruik om Sy wil uit te voer en God het direkte maniere gebruik om Paulus tot redding te bring. Praat met enigeen wat tot die Christendom bekeer is en jy sal byna nooit ‘n storie presies soos hierdie een hoor nie. Die meeste van ons kom deur ‘n preek of deur boeke te lees, tot bekering in Christus. Saam daarmee is daar gewoonlik omstandighede wat die weg voorberei – verlies van ‘n werk of familielid, mislukte huwelik, chemiese verslawing. Paulus se bekering was direk en bonatuurlik.

In Hand 16:6-10 sien ons hoe God Sy wil indirek bereik. Hierdie vind plaas tydens Paulus se tweede sendingreis. God wou gehad het dat Paulus en sy geselskap na Troas moes gaan, maar Paulus het Antiogië verlaat, aangesien hy ooswaarts in Asië wou gaan. Die Bybel sê dat die Heilige Gees hulle verbied het om die Woord in Asië te verkondig. Dan wou hulle weswaarts in Bythinia, maar die Gees van Christus het hulle daarvan weerhou en so het hulle by Troas later uitgekom. Hierdie is terugskouend geskryf, maar daar was klaarblyklik logiese verduidelikings waarom hulle nie in daardie twee streke kon ingaan nie. Nogtans het hulle besef dat dit God was wat hul gelei het, waarheen Hy hulle wou stuur – dit is voorsiening. Spreuke 16:9: “’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.”

Daar is ook diegene wat sê die siening dat God alles direk of indirek beheer, vernietig die moontlikheid van vrye wil. As God in volkome beheer is, hoe kan ons vryelik besluite neem? Met ander woorde, om betekenis aan vrye wil te gee, moet daar sekere dinge buite God se soewereine beheer wees - die gebeurlikheid van die menslike keuse. Kom ons beskou dit as waar, ter ondersteuning van die argument. Wat dan? As God nie in totale beheer van alle gebeurlikhede is nie, hoe kan Hy dan ons verlossing waarborg? Paulus sê in Fil. 1:6, “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit enduit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Indien God nie in beheer is van alle dinge nie, is hierdie belofte en alle ander Bybelse beloftes ongeldig. Ons sou nie volkome sekerheid kon hê dat die goeie verlossingswerk wat in ons begin is, voleindig sal word nie.

Verderaan, as God nie in beheer van alle dinge is nie, dan is Hy nie soewerein nie en dan ook nie God nie. Dus, om te sê dat gebeure buite God se beheer is, beteken dat God nie bestaan nie. Indien ons vrye wil goddelike voorsiening oortref, wie is dan uiteindelik God? Ons is. Goddelike voorsiening vernietig nie ons vryheid nie, maar dit gee ons die vermoë om daardie vryheid behoorlik te gebruik.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is goddelike voorsiening?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries