settings icon
share icon
Vraag

Watter hindernisse is daar ten opsigte van kragtige gebedslewe?

Antwoord


Die mees waarneembare hindernis ten opsigte van effektiewe gebed, is die aanwesigheid van onbelyde sondes in die hart van die bidder. Omdat God heilig is, veroorsaak dit ‘n hindernis tussen Hom en ons. “Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie” (Jes 59:2). Dawid het bevestig, uit ondervinding, dat God ver van hulle is wat hul sonde wegsteek: “ As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie” (Ps 66:18).

Die Bybel verwys na verskeie areas van sonde wat hindernisse kan wees. Eerstens, as ons volgens die vlees lewe, eerder as in die Gees, word ons begeerte en ons vermoë om effektief met God te kommunikeer, gehinder. Alhoewel ons ‘n nuwe natuur ontvang wanneer ons gebore word, vertoef daardie nuwe natuur steeds in ons ou vlees en daardie ou” tent” is korrup en vol sonde. Die vlees kan ons handelinge, optredes en motiewe kontroleer, tensy ons gewillig is en “deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke” (Rom 8:13) en deur die Gees in ‘n regte verhouding met God gelei word. Slegs dan sal dit moontlik wees om in ‘n hegte verbintenis tot Hom te bid.

‘n Eenrigting-lewe wat homself in die vlees manifesteer, is in die vorm van selfsug, ‘n ander hindernis in effektiewe gebed. Indien ons gebede selfsugtig gemotiveerd is, wanneer ons van God vra wat óns wil hê, in plaas van wat Hy wil hê, hinder ons motiewe ons gebede. “ En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra” (1 Joh 5:14). Om volgens God se wil te vra, is dieselfde as om ons te onderwerp aan wat ookal Sy wil mag wees, ongeag of ons weet wat daardie wil is. Soos in alles, is Jesus ons voorbeeld in gebed. Hy het altyd in die wil van Sy Vader gebid: “Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” (Lukas 22:42). Selfsugtige gebede is altyd daardie wat ten doel het om ons eie selfsugtige begeertes te bevredig en ons moenie van God verwag om sulke gebede te verhoor nie. “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig” (Jak 4:3).

Om volgens selfsugtige, vleeslike begeertes te lewe, sal ook ons gebede verhinder, omdat dit hardheid van die hart teenoor andere laat opwel. As ons onverskillig teenoor andere se nood staan, kan ons verwag dat God ook teenoor ons nood onverskillig sal wees. Wanneer ons na God gaan in gebed, moet Sy wil nommer een wees. Tweedens moet dit die behoeftes van ander mense wees. Dit kom van Fil 2:3-4, wat leer dat ons ander belangriker as onsself moet ag en hul belange bokant ons s’n moet stel.

‘n Baie belangrike hindernis in gebed is onvergewensgesindheid teenoor ander. Wanneer ons weier om ander te vergewe, groei daar ‘n wortel van bitterheid in ons harte en dit smoor ons gebede. Hoe kan ons van God verwag om Sy seëninge op ons onverdiende sondaars uit te stort, as ons haat en bitterheid teenoor ander koester? In Matt 18:23-35 word hierdie beginsel mooi uitgebeeld. Dit vertel dat God ons ‘n skuld kwytgeskeld het, wat onmeetbaar groot is (ons sonde) en Hy verwag van ons om ander ook so te vergewe. Om te weier om dit te doen, staan in die pad van ons gebede.

‘n Ander hindernis is ongeloof en twyfel. Dit beteken nie, soos sommige voorgee, dat, aangesien ons met oortuiging na God toe kom met ons versoeke en dus weet dat Hy dit sal toestaan, God verplig is om dit op een of ander wyse te doen nie. Om te bid sonder om te twyfel, beteken om in die vaste geloof en verstaan van God se karakter, natuur en motiewe te bid. “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” (Heb 11:6). Wanneer ons tot God bid en Sy karakter, plan en beloftes betwyfel, beledig ons Hom baie erg. Ons moet vertroue hê in Sy vermoë om enige versoek binne Sy wil en plan vir ons lewe, toe te staan. Ons moet bid met die verstandhouding dat wat Hy ookal beplan, die beste scenario vir ons lewens is. “Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jak 1:6,7).

Laastens, onmin in die huis is ‘n definitiewe struikelblok in gebed. Petrus het dit spesifiek genoem ten opsigte van ‘n man, wie se gesindheid teenoor sy vrou nie godvresend is nie. “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder” (1 Pet 3:7). Waar daar ‘n ernstige konflik in familieverhoudinge is en die hoof van die huishouding nie die gesindheid openbaar, wat Petrus van praat nie, is die man se gebed tot God verhinder. Dieselfde geld vir vrouens: hulle moet die Bybelse beginsels toepas, deur die man as hoof te respekteer en sodoende nie hul eie gebede te verhinder nie (Ef 5:22-24).

Gelukkig kan al hierdie hindernisse rakende gebed, uit die weg geruim word, deur oombliklik tot God te bid en te bely en die rug daarop te draai. In 1 Joh 1:9 kry ons die versekering dat “as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” Wanneer ons dit gedoen het, geniet ons ‘n oop en skoon kanaal van kommunikasie met God en en ons gebede sal nie alleenlik gehoor en beantwoord word nie, maar ons sal ook met ‘n diepe gevoel van vreugde gevul word. English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Watter hindernisse is daar ten opsigte van kragtige gebedslewe?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries