settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit om my vader en moeder te eer?

Antwoord


Om jou vader en moeder te eer, beteken om respekvol in woord en optrede te wees en om ‘n innerlike gesindheid van agting teenoor hul posisie te hê. Die Griekse woord vir “eer” beteken “om te eerbiedig, agting te openbaar en te waardeer.” Om te eer is om te respekteer, nie net volgens meriete nie, maar ook volgens rang. Byvoorbeeld, sommige Amerikaners stem dalk nie met die President se besluite saam nie, maar hulle moet nog steeds sy posisie as landsleier respekteer. Op dieselfde wyse moet kinders van alle ouderdomme hul ouers eer, ongeag van die feit of hul ouers eer “verdien” of nie.

God vermaan ons om vader en moeder te eer. Hy ag die eerbetoning teenoor ouers genoeg om dit in die Tien Gebooie in te sluit (Eks 20:12) en weer in die Nuwe Testament: “Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis.” Eer jou vader en jou moeder” is ‘n baie belangrike gebod en daar is nog ‘n belofte by: “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” (Ef 6:1-3). Om jou ouers te eer, is die enigste opdrag in die Skrif wat ‘n lang lewe as beloning belowe. Diegene wat hul ouers eer, word geseën (Jer 35:18-19). In teenstelling daarmee is daar diegene met ontaarde en hooghartige harte en diegene wat goddeloosheid uitstraal in die laaste dae, wat gekenmerk word deur ongehoorsaamheid aan die ouers (Rom 1:30; 2 Tim 3:2).

Salomo, die man met die meeste wysheid, het kinders aangespoor om hul ouers te respekteer (Spreuke 1:8; 13:1; 30:17). Alhoewel ons dalk nie langer meer direk onder hul beheer staan nie, kan ons nie God se opdrag verontagsaam om ons ouers te eer nie. Selfs Jesus, die Seun van God, het Hom onderwerp aan beide Sy aardse ouers (Luk 2:51) en Sy hemelse Vader (Matt 26:39). Ons moet Christus se voorbeeld volg en ons ouers op dieselfde wyse behandel, ook soos ons ons hemelse Vader met eerbied benader (Heb 12:9; Mal 1:6).

Ons word sonder twyfel gemaan om ons ouers te eer, maar hoe? Eer hulle met beide optrede en gesindheid (Mark 7:6). Eerbiedig hulle onuitgespreekte wense, sowel as dit wat hulle nie uitspreek nie. “’n Wyse seun laat hom leer deur sy vader, ‘n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie” (Spreuke 13:1). In Matt 15:3-9 herinner Jesus die Fariseërs aan die gebod om hulle ouers te eer. Hulle het die letter van die Wet gehoorsaam, maar hulle het hul eie tradisies bygevoeg, wat dit hoofsaaklik oorheers het. Terwyl hulle hul ouers in woord gehoorsaam het, het hul dade van hul eie motief getuig. Eerbetoon is meer as lippediens. Die woord “eer” in hierdie verband is ‘n werkwoord en dui as sodanig op die regte handeling.

Ons moet ons ouers op dieselfde wyse eer as wat ons strewe om eer aan God te bring – in ons eie gedagtes , woorde en dade. Vir ‘n jong kind is gehoorsaamheid aan ouers dieselfde as om hulle te eerbiedig. Dit sluit luister, oplet en onderwerp aan hul gesag in. Nadat kinders grootgeword het, sal die gehoorsaamheid wat hulle as kinders geleer het, tot hul voordeel wees, waar hulle dan onder ander gesagstrukture soos die regering, polisie en werkgewers moet staan.

Ons moet ons ouers gehoorsaam, maar dit beteken nie om goddelose ouers na te volg nie (Eseg 20:18-19). Indien ‘n ouer ‘n kind leer om iets te doen wat strydig met God se pdragte is, moet daardie kind eerder God as sy/haar ouers gehoorsaam (Hand 5:28).

Eerbetoning lei tot verdere eerbetoning. God sal nie diegene eer, wat nie Sy opdrag gehoorsaam nie. As ons begeer om God se hart bly te maak en om geseën te word, moet ons ons ouers eer. Om iemand te eer, is nie maklik nie, dis nie altyd lekker nie en is definitief nie moontlik in ons eie krag nie. Tog is eerbetoning ‘n sekere pad na ons lewensdoel toe – om God te vereer. “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo” (Kol 3:20).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit om my vader en moeder te eer?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries