settings icon
share icon
Vraag

Wat is die Bybel se siening oor aanneming?

Antwoord


Om kinders vir aanneming beskikbaar te stel, kan ‘n liefdevolle alternatief vir ouers wees, wat om verskeie redes nie in staat is om self kinders te hê nie. Dit kan ook vir baie egpare ‘n antwoord wees op hul gebede. Vir sommige is dit ‘n roeping om hul familie uit te brei deur nog ander kinders aan te neem en so dan die impak van hul ouerskap te vermenigvuldig. Regdeur die Skrif word daar ten gunste van aanneming gepraat.

Eksodus vertel van ‘n Hebreeuse vrou, Jogebed, wat ‘n seun in die lewe gebring het gedurende die tyd toe Farao beveel het dat alle Hebreeuse babaseuntjies doodgemaak moes word (Eks 1:15-22). Jogebed het toe ‘n mandjie waterdig gemaak en die baba in die mandjie op die rivier geplaas. Een van Farao se dogters het dit gesien en die kind gered. Sy het hom uiteindelik in die koninklike familie aangeneem en hom Moses genoem. Hy het ‘n gelowige en geseënde dienskneg van God geword (Eks 2:1-10).

In die boek Ester word vertel van ‘n dogter, genaamd Ester. Sy is deur haar neef aangeneem na haar ouers se dood, koningin geword en God het haar gebruik om die Joodse mense te bevry. In die Nuwe Testament is Jesus Christus deur die Heilige Gees bevrug, in plaas van deur die saad van ‘n man (Matt 1:18). Hy is “aangeneem” en grootgemaak deur Sy moeder se man, Josef, wat Jesus as sy eie kind aanvaar het.

Wanneer ons ons harte aan Christus gegee het, in Hom alleen glo en vertrou vir redding, sê God dat ons deel word van Sy familie – nie deur die natuurlike proses van menslike bevrugting nie, maar deur aanneming. “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.” (Rom 8:15). Soortgelyke gebeur wanneer ‘n persoon deur aanneming in ‘n familie gebring word – deur uit liefde te kies. “In Sy liefde het Hy ons, volgens Sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus Sy kinders te wees” (Ef 1:5). Soos God diegene aanneem wat Christus as Verlosser aanneem, so moet ons die aanneem van kinders in ons eie fisiese families biddend oorweeg.

Duidelik is aanneming – beide in die fisiese sowel as in die geestelike sin – aanvaarbaar in die lig van die Skrif. Beide diegene wat aanneem, sowel as die wat aangeneem word, ontvang ‘n geweldige seën, ‘n voorreg, soos in die voorbeeld wat gestel word deur ons aanneming as kinders in God se familie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die Bybel se siening oor aanneming?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries