settings icon
share icon
Vraag

Waarom moes Jesus soveel lyding verduur?

Antwoord


Jes 52:14 sê, “Baie mense was ontsteld oor hom, hy was so misvormd dat hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie, nie meer die voorkoms van ‘n mens gehad het nie.” Jesus het uiters swaar gedurende die verhoor, marteling en kruisiging gely (Matt 27; Mark 15; Luk 23; Joh 19). Hoe aaklig Sy fisiese lyding ookal was, was dit niks in vergelyking met die geestelike lyding wat Hy moes deurmaak nie. 2 Kor 5:21 sê, “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” Jesus het die sondelas van die hele wêreld op Hom geneem (1 Joh 2:2). Dit was die sonde wat veroorsaak het dat Jesus uitgeroep het, “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46). Dus, hoe wreed Jesus se fisiese lyding ookal was, was dit niks in vergelyking met ons sondelas wat Hy moes dra en die prys wat Hy daarvoor moes betaal nie (Rom 5:8).

Jesaja voorspel Jesus se lyding in duidelike taalgebruik: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Oor óns oortredinge is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes 53:3,5). Ps 22:15-19 is ‘n ander kragtige skrifgedeelte wat die lyding van die Messias voorspel: “Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my. Ek is so min werd soos ‘n potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is. Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas. Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak. Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.”

Hoekom moes Jesus so swaar ly? Sommige dink dat die fisiese marteling deel was van Sy straf vir ons sondes. In ‘n sekere mate is dit waar. Terselfdertyd lyk dit meer na die haat en wreedheid van die mense, as wat dit gaan oor God se straf vir die sonde. Satan se absolute haat teenoor God en Jesus was verseker deel van die motivering agter die genadelose marteling en mishandeling. Die lyding wat op Jesus afgekom het, is die uiterste voorbeeld van haat en woede, wat die sondige mens teenoor ‘n heilige God gevoel het (Rom 3:10-18).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom moes Jesus soveel lyding verduur?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries