settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit dat Jesus die Lam van God is?

Antwoord


Wanneer daar in Joh 1:29 en Joh 1:36 na Jesus verwys word as die Lam van God, beteken dit dat Hy die perfekte en volmaakte offer vir sonde is. Om te verstaan wie Christus was en wat Hy gedoen het, moet ons eerstens kyk na die Ou Testament, wat profesieë in verband met die koms van Christus as “skuldoffer” bevat (Jes 53:10). Die Ou Testament met die hele offerstelsel daarin, wat deur God ingestel is, het die weg vir die koms van Christus gebaan. Hy is die volmaakte offer wat God gebruik het as versoening vir Sy mense se sondes (Rom 8:3, Heb 10).

Die offer van lammers het ‘n baie belangrike rol in die Joodse godsdienstige lewe en offerstelsel gespeel. Toe Johannes die Doper gesê het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”, moes die Jode wat dit gehoor het, dadelik aan een van verskeie belangrike offerandes gedink het. Dit tyd van die Paasfees was naby en daarom moes hul eerste gedagte die offer van die Paaslam gewees het. Die Paasfees was een van die Jode se belangrike vakansies en dit was ‘n viering ter herinnering aan God se vrymaking van die Israeliete uit Egipte. Die slag van die Paaslam en die bloed aan die deurkosyne (Ex 12:11-13) skilder ‘n pragtige prent van Christus se verlossingswerk aan die kruis. Hulle vir wie Hy gesterf het, is bedek met Sy bloed, wat ons beskerm teen die doodsengel (geestelike dood).

‘n Ander belangrike offer met betrekking tot lammers, was die daaglikse offer by die tempel in Jerusalem. Elke more en elke aand is ‘n lam in die tempel geoffer vir die mense se sonde (Ex 29:38-42). Hierdie daaglikse offerandes, soos al die ander, was maar net om die mense te herinner aan die volmaakte offer van Christus aan die kruis. Die tyd toe Jesus gesterf het aan die kruis, stem ooreen met die tyd van die aand-offerande by die tempel. Die Jode van daardie tyd was bekend met die profete Jeremia en Jesaja van die Ou Testament, wat voorspel het van die Een wat “soos ‘n mak lam weggelei word om geslag te word” (Jer 11:19; Jes 53:7) en wie se lyding en offerande verlossing vir Israel sou bring. Natuurlik was hierdie persoon niemand anders as Jesus Christus, “die Lam van God” nie.

Al lyk die offerstelsel vandag vir ons vreemd, bly die konsep van betaling of herstel nog maklik verstaanbaar. Ons weet dat die straf vir sonde die dood is (Rom 6:23) en dat ons sondes ons van God verwyder. Ons weet ook dat die Bybel ons leer dat ons almal sondaars is en nie een van ons is regverdig voor God nie (Rom 3:23). As gevolg van ons sonde, is ons verwyder van God en staan ons skuldig voor Hom. Die enigste hoop wat ons dus het, is as Hy vir ons ‘n pad berei om met Homself versoen te raak en dit is wat Hy gedoen het, deur Sy Seun te stuur , Jesus Christus, om aan die kruis te sterf. Christus het gesterf om vergifnis vir sonde te bring en om die boete vir sonde te betaal van almal wat in Hom glo.

Dit is deur Sy dood aan die kruis, God se volmaakte offerande vir sonde en Sy opstanding drie dae later, dat ons wat in Hom glo, die ewige lewe nou kan hê. Die feit dat God self die offerlam voorsien het, om ons sondes te vergewe, is deel van die wonderlike goeie nuus van die Evangelie, wat so duidelik in 1 Pet 1:18-21 verduidelik word: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit dat Jesus die Lam van God is?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries