settings icon
share icon
Vraag

Doen God steeds wonderwerke?

Antwoord


Baie mense wil graag hê dat God Homself aan hulle moet “bewys” deur wonderwerke te doen. “As God maar net ‘n wonderwerk, teken of wonder doen, dan sal ek glo!” Hierdie gedagte word egter deur die Skrif weerspreek. Toe God verbasende en kragtige wonderwerke vir die Israeliete gedoen het, het dit veroorsaak dat hulle Hom gehoorsaam? Nee, die Israeliete was gereeld ongehoorsaam en het teen God in opstand gekom alhoewel hulle al die wonderwerke aanskou het. Dieselfde mense wat gesien het hoe God die Rooi See kloof het later getwyfel of God in staat was om die inwoners van die Beloofde Land te oorwin. Hierdie waarheid word verduidelik in Lukas 16:19-31. In die verhaal, vra ‘n man wat in die hel is vir Abraham om vir Lasarus uit die dode terug te stuur om sy broers te waarsku. Abraham sê vir die man, “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan” (Lukas 16:31).

Jesus het tallose wonderwerke verrig, maar die oorgrote meerderheid van mense het nie in Hom geglo nie. As God vandag wonderwerke sou doen soos Hy in die verlede gedoen het, sal die gevolge dieselfde wees. Mense sal verbaas staan en in God glo vir ‘n kort tydjie. Daardie geloof sal oppervlakkig wees en verdwyn die oomblik wat iets onverwags of skrikaanjaend gebeur. ‘n Geloof gebaseer op wonderwerke is nie ‘n volhoubare geloof nie. God het die grootste wonderwerk van alle tye verrig toe Hy as die Mens Jesus Christus aarde toe gekom het om aan die kruis vir ons sonde te sterf (Romeine 5:8) sodat ons gered kon word (Johannes 3:16). God verrig steeds wonderwerke—baie gaan eenvoudig ongesiens verby of word ontken. Maar ons het nie nog wonderwerke nodig nie. Wat ons nodig het is om te glo in die wonderwerk van verlossing deur geloof in Jesus Christus.

Die doel van wonderwerke was om die volbringer daarvan te bekragtig. Handelinge 2:22 verklaar, “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasarener, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte, en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet—.” Dieselfde word gesê van die apostels, “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (2 Korinthiërs 12:12). Ten opsigte van die evangelie, verklaar Hebreërs 2:4, “…terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens Sy wil?” Ons het nou die waarheid oor Jesus Christus soos aangeteken in die Skrif. Ons het nou die skrywes van die apostels soos aangeteken in die Skrif. Jesus en Sy apostels, soos aangeteken in die Skrif, is die hoeksteen en fondament van ons geloof (Efesiërs 2:20). So gesien, is wonderwerke nie langer nodig nie, omdat die boodskap van Jesus en Sy apostels alreeds in die Skrif bevestig en akkuraat aangeteken is. Ja, God doen steeds wonderwerke. Terselfdertyd moet ons nie noodwendig verwag dat wonderwerke vandag nog sal plaasvind soos in die Bybelse tye nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Doen God steeds wonderwerke?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries