settings icon
share icon
Vraag

Is God / die Bybel seksisties?

Antwoord


Seksisme is wanneer een geslag, gewoonlik manlik, die ander geslag, gewoonlik vroulik, oorheers. Die Bybel bevat baie verwysings na vroue wat, volgens ons moderne denke, diskriminerend klink. Maar ons moet onthou dat wanneer die Bybel ‘n handeling beskryf, dit nie noodwendig beteken dat die Bybel daardie handeling onderskryf nie. Die Bybel beskryf hoe mans vroue nie veel meer as eiendom behandel nie, maar dit beteken nie dat God dit goedkeur nie. Die Bybel is veel meer gerig op die bekering van ons siele as van ons gemeenskappe. God weet dat ‘n verandering in die hart ‘n verandering in gedrag tot gevolg het.

Tydens Ou Testamentiese tye, was feitlik elke kultuur in die hele wêreld patriargaal van aard. Hierdie deel van die geskiedenis is baie duidelik—nie alleen in die Skrif nie maar ook in die reëls wat die meeste gemeenskappe beheer het. Moderne waardes en die wêreldse humanistiese uitkyk van vandag noem dit “seksisties.” God het orde in die gemeenskap ingestel, nie die mens nie, en Hy het die beginsels van gesag as ‘n instelling geskep. Maar, soos met alle ander dinge, het die sondige mens ook hierdie orde verontreinig. Dit het gelei tot die ongelyke aansien van mans en vroue deur die geskiedenis heen. Die uitsluiting en die diskriminasie wat ons in vandag se wêreld vind is niks nuut nie. Dit is die resultaat van die sondeval en die inleiding van sonde. Daarom kan ons met sekerheid sê dat die uitdrukking en die toepassing van “seksisme” die gevolg is van sonde. Die toenemende onthulling van die Bybel lei ons na die genesing vir seksisme en inderdaad vir al die sondige gewoontes van die mensdom.

Om ‘n geestelike balans te vind en te handhaaf tussen die ampte van gesag wat deur God ingestel is, moet ons na die Bybel kyk. Die Nuwe Testament is die vervulling van die Oue, en daarin vind ons die grondbeginsels wat die regte gesagslyn vir ons aandui en die genesing van sonde, die siekte waaraan die hele mensdom lei, en dit sluit diskriminasie gebaseer op geslag in.

Die kruis van Christus is die groot gelykmaker. Johannes 3:16 sê, “elkeen wat in Hom glo,” en dit is ‘n almal insluitende stelling wat niemand uitlaat op grond van posisie in die gemeenskap, verstandelike vermoëns, of geslag nie. Ons vind ook ‘n gedeelte in Galasiërs wat handel oor ons gelyke geleentheid tot verlossing. “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” (Galasiërs 3:26-28). Daar is geen seksisme by die kruis nie.

Die Bybel is nie seksisties in sy akkurate voorstelling van die gevolge van sonde in beide mans en vroue nie. Die Bybel vermeld alle tipes sonde: slawerny en gevangenskap en die tekortkominge van sy grootste helde. Maar dit gee ons ook die antwoord en die genesing van daardie sonde teen God en Sy gevestigde orde—‘n korrekte verhouding met God. Die Ou Testament het vorentoe gekyk na die allerhoogste offer, en elke keer wanneer ‘n offer vir sonde gebring was, het dit die noodsaaklikheid van versoening met God geleer. In die Nuwe Testament, was die “Lam wat die sonde van die wêreld weggeneem het” gebore, gestorwe, begrawe, en het Hy weer opgestaan, opgevaar na Sy plek in die hemel, en daar is Hy vir ons ‘n voorspraak. Dit is deur geloof in Hom dat genesing vir sonde gevind is, en dit sluit die sonde van seksisme in.

Die aanklag dat die Bybel seksisties is, is gebaseer op ‘n gebrek aan kennis van die Skrif. Wanneer mans en vroue van alle ouderdomme hulle plekke ingeneem het soos deur God ingestel en lewe volgens “so spreek die Here,” dan is daar ‘n wonderlike balans tussen geslagte. Daardie balans het God mee begin, en dit is waarmee Hy sal eindig. Daar word ‘n oordrewe hoeveelheid aandag bestee aan die verskeie gevolge van sonde en nie aan die oorsprong daarvan nie. Dit is slegs deur persoonlike versoening met God deur die Here Jesus Christus wat ons ware gelykheid ervaar. “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32).

Dit is ook baie belangrik om te verstaan dat die Bybel se toekenning van verskillende rolle aan mans en vroue nie seksisme is nie. Die Bybel maak dit baie duidelik dat God verwag dat mans die leierskap rol in die kerk en by die huis sal neem. Maak dit vroue minderwaardig? Beslis nie. Beteken dit dat vroue minder intelligent, minder bevoeg, of geringer in God se oë is? Beslis nie! Wat dit beteken is dat in ons sonde-besmette wêreld, daar orde en gesag moet wees. God het die rolle van gesag vir ons eie beswil ingestel. Seksisme is die misbruik van hierdie rolle, nie die bestaan daarvan nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is God / die Bybel seksisties?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries