settings icon
share icon
Vraag

Is God manlik of vroulik?

Antwoord


Volgens die Skrif is twee feite duidelik. Eerstens, God is ‘n Gees en is nie gebonde aan menslike kenmerke of beperkings nie. Tweedens, al die bewyse vervat in die Skrif is dit eens dat God Homself aan die mensdom geopenbaar het in ‘n manlike vorm. Om te begin, moet ons God se ware natuur verstaan. God is vanselfsprekend ‘n Persoon, want Hy openbaar al die kenmerke waaroor ‘n persoon beskik: God het ‘n verstand, ‘n wil, ‘n intellek, en emosies. God kommunikeer en het verhoudings, en God se persoonlike dade is beskryf regdeur die Skrif.

Soos Johannes 4:24 sê, “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Aangesien God ‘n geestelike wese is, het Hy nie fisiese menslike kenmerke nie. Maar soms, met die gebruik van beeldspraak in die Skrif, word menslike kenmerke gebruik ten einde dit moontlik te maak vir die mens om God te verstaan. Hierdie gebruik van menslike kenmerke om God mee te beskryf, word “antropomorfisme” genoem. Antropomorfisme is eenvoudig ‘n manier waarop God (‘n geestelike wese) die waarheid omtrent Sy natuur aan die mensdom, fisiese wesens, oordra. Aangesien die mens liggaamlik is, is ons beperk in ons begrip van daardie dinge wat buite die sigbare werklikheid lê; dus help antropomorfisme in die Skrif ons om God te verstaan.

Van die dinge wat ons moeilik vind om te begryp is die feit dat die mens na God se beeld geskape is. Genesis 1:26-27 sê, “En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na Sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”

Beide man en vrou is geskape na die beeld van God, in die sin dat hulle verhewe is bo al die ander skepsels, want hulle het, soos God, ‘n verstand, ‘n wil, intellek, emosies, en sedelike norme. Diere beskik nie oor ‘n sedelike norme nie en ook nie oor ‘n geestelike vermoë soos mense nie. Die beeld van God is die geestelike vermoë wat die mens alleen besit. God het die mens geskape om in ‘n verhouding met Hom te wees. Die mensdom is die enigste van God se skeppings wat daarvoor geskape is.

Noudat dit gesê is, moet ons onthou dat man en vrou slegs na die beeld van God geskape is—hulle is nie klein “kopieë” van God nie. Die feit dat daar mans en vrouens is vereis nie dat God manlike en vroulike kenmerke moet hê nie. Onthou, om na die beeld van God geskape te wees het niks te doen met liggaamlike kenmerke nie.

Ons weet dat God ‘n geestelike wese is en nie fisieke kenmerke het nie. Dit beperk egter nie God se vermoë om te besluit hoe Hy Homself aan die mens wil openbaar nie. Die Skrif bevat al die openbaarmakings van God aan die mensdom omtrent Homself, en is dus die enigste bron van ter saaklike inligting oor God. Wanneer ons kyk na wat die Skrif sê, sien ons verskeie bewyse van die vorm waarin God verkies het om Homself aan die mensdom te openbaar.

Die Skrif bevat ongeveer 170 verwysings na God as die “Vader.” Dit is onvermydelik dat niemand ‘n vader kan wees indien hy nie manlik is nie. As God verkies het om openbaar te word in ‘n vroulike vorm, dan sou die woord “Moeder” in hierdie plekke geskryf gewees het, nie “Vader” nie. In die Ou en Nuwe Testamente, word manlike voornaamwoorde oor en oor gebruik wanneer na God verwys word.

Jesus Christus verwys verskeie kere na God as die Vader en in ander gevalle gebruik Hy manlike voornaamwoorde met verwysing na God. In die Evangelies alleen, gebruik Christus bykans 160 keer die term “Vader” met direkte verwysing na God. Van besondere belang is Christus se stelling in Johannes 10:30: “Ek en die Vader is een.” Vanselfsprekend moes Jesus Christus in ‘n menslike vorm kom om aan die kruis te sterf as betaling vir die sonde van die wêreld. Net soos God die Vader, was Jesus aan die mensdom geopenbaar in ‘n manlike vorm. Die Skrif bevat vele ander gevalle waar Christus manlike naamwoorde en voornaamwoorde gebruik met verwysing na God.

Die Nuwe Testamentiese Briewe (vanaf Handelinge tot Openbaring) bevat ook ongeveer 900 verse waar die woord theos—‘n manlike naamwoord in Grieks—gebruik word in direkte verwysing na God. In tallose verwysings na God in die Skrif, word daar in ‘n vaste patroon na Hom verwys met manlike titels, naamwoorde, en voornaamwoorde. Alhoewel God nie ‘n mens is nie, het Hy verkies om Hom in ‘n manlike vorm aan die mensdom te openbaar. Net so ook het Jesus Christus, na wie gereeld verwys word met manlike titels, naamwoorde, en voornaamwoorde, ‘n manlike vorm aangeneem toe Hy op die aarde was. Die profete van die Ou Testament en die apostels van die Nuwe Testament verwys na beide God en Jesus Christus met manlike name en titels. God het verkies om in hierdie vorm aan die mens geopenbaar te word sodat ons makliker kan begryp wie Hy is. Alhoewel God toegewings maak om ons te help om Hom te verstaan, is dit belangrik om te probeer om nie van God iets te maak wat Hy nie is nie. Ons mag nie beperkings op Hom plaas wat nie toepaslik op Sy almag is nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is God manlik of vroulik?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries