settings icon
share icon
Vraag

Wat leer die Bybel ons omtrent die Drie-eenheid?

Antwoord


Die mees ingewikkelde aspek aangaande die Christelike konsep van die Drie-eenheid is dat daar geen manier is om dit op die regte manier te verduidelik nie. Die Drie-eenheid is ‘n konsep wat onmoontlik is vir enige menslike wese om volledig te verstaan, om nie eens te praat van verduidelik nie. God is oneindig groter as ons, daarom behoort ons nie te verwag dat ons ooit in staat sal wees om Hom volledig te verstaan nie. Die Bybel leer ons dat die Vader God is, dat Jesus God is, en dat die Heilige Gees God is. Die Bybel leer ons ook dat daar slegs een God is. Alhoewel ons wel sommige feite aangaande die verhouding van die verskillende persone in die Drie-eenheid ten opsigte van mekaar kan verstaan, is dit per slot van rekening onbegryplik vir die menslike verstand. Dit beteken egter nogtans nie dat dit nie waar is nie of nie op die Bybelse leringe gebaseer is nie.

Wanneer ons hierdie spesifieke onderwerp bestudeer, moet ons in gedagte hou dat die woord “Drie-eenheid” nie in die Skrif gebruik word nie. Dit is ‘n term wat gebruik word as ‘n poging om die drie-enige God te beskryf, asook die feit dat daar drie saambestaande en mede-ewige persone is waaruit God bestaan. Ons moet egter verstaan dat dit GEENSINS en op enige wyse 3 Gode suggereer nie. Die Drie-eenheid is 1 God wat uit drie persone bestaan. Daar is niks mee verkeerd om die term “Drie-eenheid” te gebruik nie, selfs al word die woord nie in die Bybel gevind nie. Deur die woord “Drie-eenheid” te gebruik, gebruik ons ‘n korter manier van praat, eerder as om te verwys na “3 saambestaande. mede-ewige persone waaruit 1 God bestaan.” Indien dit dalk vir jou ‘n probleem mag wees, dink ‘n bietjie so daaraan: die woord oupa word ook nie in die Bybel gebruik nie. Ja, ons weet dat daar oupas in die Bybel was. Abraham was die oupa van Jakob. Ons moet dus nie geheel en al van die term: Drie-eenheid opsigself afstand doen nie. Wat werklik van belang is is dat die konsep wat deur die woord “Drie-eenheid” VOORGESTEL word, wel in die Skrif bestaan. Noudat ons reeds die inleiding afgehandel het, kom ons kyk na etlike Bybelverse wat die Drie-eenheid beskryf.

1) Daar is een God: Deuteronómiun 6:4; 1 Korinthiërs 8:4; Galasiërs 3:20; 1 Timótheüs 2:5.

2) Die Drie-eenheid bestaan uit drie Persone: Genesis 1:1; 1:26; 3:22; 11:7; Jesaja 6:8; 48:16; 61:1; Mattheüs 3:16-17; Mattheüs 28:19; 2 Korinthiërs 13:14. Ten einde die Ou Testamentiese gedeeltes beter te verstaan, sal ‘n grondige kennis van die Hebreeus nuttig wees. In Genesis 1:1, word die meervoudige naamwoord “Elohim” gebruik. In Genesis 1:26; 3:22; 11:7 en in Jesaja 6:8, word die meervoudige voornaamwoord vir “ons” gebruik. SONDER enige twyfel verwys beide “Elohim” en “ons” na meer as twee. In Engels kry ‘n mens slegs twee vorme, enkelvoud en meervoud. In Hebreeus kry ‘n mens egter drie vorme: enkelvoud, tweeledig en meervoud. Tweeledig dui SLEGS op twee. In Hebreeus word die tweeledige vorm gebruik vir dinge wat in pare kom soos byvoorbeeld oë, ore en hande. Die woord “Elohim” en die voornaamwoord “ons” is meervoudige vorme – definitief meer as twee – en moet dus uiteraard na drie of meer verwys (Vader, Seun, Heilige Gees).

In Jesaja 48:16 en 61:1, is die Seun aan die woord, terwyl daar terselfdertyd na die Vader en die Heilige Gees verwys word. Wanneer ‘n mens Jesaja 61:1 en Lukas 4:14-19 met mekaar vergelyk, is dit duidelik dat die Seun aan die woord is. Mattheüs 3:16-17 beskryf die gebeurtenis van Jesus se doop. Binne hierdie spesifieke konteks sien ons hoe God die Heilige Gees op God die Seun neerdaal, terwyl God die Vader aankondig dat Hy ‘n welbehae in die Seun het. Mattheüs 28:19 en 2 Korinthiërs 13:14 is voorbeelde van die 3 verskillende persone van die Drie-eenheid.

3) Die lede van die Drie-eenheid word duidelik van mekaar onderskei in die onderskeie gedeeltes: In die Ou Testament word die “HEER” duidelik onderskei van “Heer” (Genesis 19:24; Hosea 1:4). Die “HEER” het ‘n “Seun” (Psalm 2:7, 12; Spreuke 30:2-4). Gees word onderskei van die “HEER” (Númeri 27:18) en van "God" (Psalm 51:10-12). God die Seun word onderskei van God die Vader (Psalm 45:6-7; Hebreërs 1:8-9). In die Nuwe Testament, en spesifiek in Johannes 14:16-17 bid Jesus tot die Vader en vra Hom om ‘n Trooster, die Heilige Gees aan ons te stuur. Dit alles dui daarop dat Jesus Homself nie as die Vader of die Heilige Gees beskou nie. Dink ook ‘n bietjie na oor al die ander geleenthede in die Evangelies waar Jesus met die Vader gepraat het. Het Hy met Homself gepraat? Nee. Hy het met ‘n ander persoon in die Drie-Eenheid gepraat – die Vader.

4) Elke lid van die Drie-eenheid is God: Die Vader is God: Johannes 6:27; Romeine 1:7; 1 Petrus 1:2. Die Seun is God: Johannes 1:1, 14; Romeine 9:5; Kolossense 2:9; Hebreërs 1:8; 1 Johannes 5:20. Die Heilige Gees is God: Handelinge 5:3-4; 1 Korinthiërs 3:16 (Die Een wat inwoon is die Heilige Gees - Romeine 8:9; Johannes 14:16-17; Handelinge 2:1-4).

5) Die onderhorigheid binne die Drie-eenheid: die Skrif wys ons daarop dat die Heilige Gees onderhorig is aan die Vader en die Seun en die Seun onderhorig aan die Vader. Dit is ‘n interne verhouding en ontken nie die goddelikheid van enige persoon in die Drie-eenheid nie. Dit is eenvoudig net ‘n area waarbinne ons beperkte gemoedere niks omtrent die oneindige God kan verstaan nie. Wat die Seun aanbetref, raadpleeg gerus die volgende gedeeltes: Johannes 14:16; 14:26; 15:26; 16:7 en veral Johannes 16:13-14.

6) Die take van die individuele lede van die Drie-eenheid: Die Vader is die uiteindelike bron of oorsaak van: 1) die heelal (1 Korinthiërs 8:6, Openbaring 4:11); 2) goddelike openbaring (Openbaring 1:1); 3) verlossing (Johannes 3:16-17); en 4) Jesus se menslike werke (Johannes 5:17; 14:10). Die Vader INISIEER al hierdie dinge.

Die Seun is die agent deur wie die Vader die volgende werke doen: 1) die skepping en instandhouding van die heelal (1 Korinthiërs 8:6; Johannes 1:3; Kolossense 1:16-17); 2) goddelike openbaring (Johannes 1:1; Mattheüs 11:27; Johannes 16:12-15; Openbaring 1:1); en 3) verlossing (2 Korinthiërs 5:19; Mattheüs 1:21; Johannes 4:42). Die Vader doen al hierdie dinge deur die Seun, wat as Sy agent funksioneer.

Die Heilige Gees is die instrument deur wie die Vader die volgende werke doen: 1) skepping en instandhouding van die heelal (Genesis 1:2; Job 26:13; Psalm 104:30); 2) goddelike openbaring (Johannes 16:12-15; Efesiërs 3:5; 2 Petrus 1:21); 3) verlossing (Johannes 3:6; Titus 3:5; 1 Petrus 1:2); en 4) Jesus se werke (Jesaja 61:1; Handelinge 10:38). Die Vader doen dus al hierdie dinge deur die krag van die Heilige Gees.

Geeneen van hierdie illustrasies is volledige akkurate beskrywings van die Heilige Gees nie. Die eier (of appel) beskrywing skiet ook te kort in dié opsig dat die dop, wit en geel slegs dele van die eier is, en in hulself vorm hul nie die eier nie. Die Vader, Seun en Heilige Gees vorm nie verskillende gedeeltes van God nie, elkeen van hulle is God opsigself. Die water illustrasie werk dalk ietwat beter, maar dit gee egter nog steeds nie ‘n akkurate beskrywing van die Drie-eenheid nie. Vloeistof, stoom en ys is almal vorme van water. Die Vader, Seun en Gees is nie verskillende vorme van God nie, elkeen van hulle is God opsigself. Terwyl hierdie illustrasies dus aan ons ‘n duidelike prentjie van die Drie-eenheid gee, is die prentjie steeds nie heeltemal akkuraat nie. ‘n Oneindige God kan onmoontlik nie volledig beskryf word deur middel van ‘n beperkte illustrasie nie. In plaas daarvan om te veel op die Drie-eenheid te konsentreer, behoort ons eerder te fokus op God se grootheid en oneindiglik hoër natuur as ons eie. "O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondlik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagtes van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?” (Romeine 11:33-34)

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat leer die Bybel ons omtrent die Drie-eenheid?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries