settings icon
share icon
Vraag

Behoort Christene dokters te besoek?

Antwoord


Daar is sommige Christene wat glo dat die ontvangs van mediese behandeling ‘n gebrek aan geloof in God beteken. In die “Word-Faith” beweging, word ‘n doktersbesoek dikwels geag ‘n gebrek aan geloof te wees wat God inderdaad sal verhoed om jou te genees. In groepe soos “Christian Science”, word die besoek aan geneeshere somtyds gesien as ‘n versperring van die spirituele energie wat God aan ons gegee het om onsself te genees. Die logika van hierdie standpunte is besonder gebrekkig. As jou motor stukkend is, neem jy dit na ‘n werktuigkundige of wag jy vir God om met ‘n wonderwerk jou motor te herstel? As ‘n waterpyp in jou huis bars, wag jy vir God om dit te herstel of kontak jy ‘n loodgieter? God is net so in staat om ‘n motor te herstel of ‘n waterpyp reg te maak as wat Hy is om ons liggame te genees. Die feit dat God wonderbaarlike genesings kan doen en wel doen, beteken nie dat ons altyd ‘n wonderwerk moet verwag in plaas daarvan om die hulp van mense te vra wat die kennis en vaardighede het om ons te help nie.

Daar word omtrent ‘n dosyn kere na geneeshere in die Bybel verwys. Die enigste vers wat buite konteks vertolk kan word dat ons nie na geneeshere moet gaan nie, is 2 Kronieke 16:12. “En in die negen-en-dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die HERE nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere.” Die punt is nie dat Asa geneeshere gekonsulteer het nie, maar dat “hy die HERE nie geraadpleeg het nie.” Selfs wanneer ons ‘n dokter besoek, moet ons uiteindelike geloof in God wees, nie in die dokter nie.

Daar is baie verse wat spreek van die aanwending van “mediese behandeling” soos die gebruik van verbande (Jesaja 1:6), olie (Jakobus 5:14), olie en wyn (Lukas 10:34), blare (Esegiël 47:12), wyn (1 Timotheus 5:23), en salwe, veral die “balsem van Gilead” (Jeremia 8:22). Ook word Lukas, die skrywer van Handelinge en die Evangelie van Lukas, deur Paulus “die geneesheer Lukas, die geliefde” genoem (Kolossense 4:14).

Markus 5:25-30 vertel die verhaal van ‘n vrou wat aan bloedvloeiing gely het, ‘n probleem wat die geneeshere nie kon genees nie alhoewel sy vele van hulle besoek het en al haar geld uitgegee het. By Jesus gekom, het sy gedink dat as sy maar net aan Sy klere kon raak, sy genees sou word; sy het Sy klere aangeraak en is genees. In antwoord op die Fariseërs se vraag oor waarom Hy tyd spandeer saam met sondaars, het Jesus gesê, “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is” (Mattheus 9:12). Uit hierdie verse kan ons die volgende aflei:

1) Dokters is nie God nie, en moet ook nie so beskou word nie. Hulle kan soms help, maar daar sal ander kere wees dat al waarin hulle sal slaag is om jou van jou geld te ontneem.

2) Besoeke aan geneeshere en die gebruik van “aardse” medikasie word nie in die Skrif veroordeel nie. Mediese behandeling word inderdaad in ‘n gunstige lig gesien.

3) God se ingryping in enige liggaamlike probleem moet gevra word (Jakobus 4:2; 5:13). Hy belowe nie dat Hy sal antwoord soos ons wil hê nie (Jesaja 55:8-9), maar ons het die versekering dat alles wat Hy doen, in liefde gedoen sal word en dus in ons beste belang (Psalm 145:8-9).

So, behoort Christene dokters te besoek? God het ons geskape as intelligente wesens en het ons die vermoë gegee om medisyne te vervaardig en te leer hoe om ons liggame gesond te maak. Daar is niks mee verkeerd om hierdie kennis en vermoë aan te wend tot liggaamlike genesing nie. Dokters kan gesien word as ‘n gawe van God, ‘n manier waardeur God genesing en herstel teweeg bring. Terselfdertyd, ons uiteindelike geloof en vertroue moet in God wees, nie in dokters of medisyne nie. Soos met alle moeilike besluite, moet ons na God gaan wat beloof het om aan ons wysheid te gee wanneer ons daarvoor vra (Jakobus 1:5).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Behoort Christene dokters te besoek?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries