settings icon
share icon
Vraag

Kan ‘n Christen sy redding verloor?

Antwoord


Voordat hierdie vraag beantwoord kan word, moet die term “Christen” eers omskryf word. ‘n Christen is nie ‘n persoon wat ‘n gebed gebid het of in ‘n kerk gesit het of in ‘n Christelike huis opgegroei het nie. Elkeen van hierdie dinge kan deel vorm van die Christelike ervaring, maar dit “maak” nie van jou ‘n Christen nie. ‘n Christen is iemand wat in Jesus Christus glo en Hom aanvaar en Hom vertrou as enigste Verlosser (Joh 3:16, Hand 16:31, Ef 2:8-9).

Met hierdie definisie in gedagte, kan daar nou gevra word, “Kan ‘n Christen sy redding verloor?” Miskien is die beste manier om hierdie uiters belangrike vraag te beantwoord, om die Bybel te ondersoek en te hoor wat tydens redding gebeur en te bestudeer wat meebring dat redding verlore gaan. Hier is ‘n paar voorbeelde:

‘n Christen is ‘n nuwe wese. “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor 5:17). Hierdie teksvers dui daarop dat ‘n persoon ‘n totale nuwe wese word, as gevolg van die feit dat so iemand “in Christus” is. Vir ‘n Christen om redding te verloor, sou beteken dat die nuwe mens gekanselleer en omgekeer moet word.

‘n Christen is vrygekoop. “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (1 Pet 1 :18-19). Die woord “vrygekoop” of “losgekoop” verwys na ‘n kooptransaksie, ‘n prys is betaal. Vir ‘n Christen om sy redding te verloor, sou God self die koop moes herroep, wat Hy met die kosbare bloed van Christus betaal het.

‘n Christen is vrygespreek. “God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom 5:1). Om vry te spreek, beteken om regverdig te verklaar. Almal wat Jesus as Verlosser aangeneem het, is regverdig verklaar by God. Vir ‘n Christen om sy redding te verloor, sou God moes teruggaan op Sy Woord en wat Hy voorheen verklaar het, nou “onverklaar” moet maak.

Aan ‘n Christen is die ewige lewe beloof. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh 3;16). Ewige lewe is ‘n belofte van ewigheid (vir altyd) in die hemel by God. God belowe, “Glo en jy sal die ewige lewe verkry.” Vir ‘n Christen om sy redding te verloor, moet die ewige lewe weggeneem word. As aan die Christen belowe is om vir ewig te lewe, hoe kan God dan Sy belofte verbreek en die ewige lewe wegneem?

Aan die Christen is verheerliking gewaarborg. “Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik” (Rom 8:30). Soos ons in Rom 5:1 gehoor het, is vryspraak op die oomblik van geloof, verklaar. Na aanleiding van Rom 8;30, is verheerliking gewaarborg vir hulle vir wie God vrygespreek het. Verheerliking verwys na ‘n Christen wat in die hemel ‘n volmaakte opgestane liggaam sal kry. As ‘n Christen redding kan verloor, dan is Rom 8:30 foutief, omdat God nie verheerliking kon waarborg vir almal wat Hy “daartoe bestem het”, geroep en vrygespreek het nie.

Daar is baie meer voorbeelde van wat tydens redding gebeur, maar reeds hierdie paar wat genoem is, maak dit duidelik dat ‘n Christen nie sy redding kan verloor nie. Feitlik alles, indien nie alles wat die Bybel sê oor wat met ons gebeur, wanneer ons Jesus Christus as Verlosser aanneem, sou waardeloos gewees het as redding verlore kon gaan. Redding kan nie omgekeer word nie. ‘n Christen kan nie “on-nuut” gemaak word nie. Verlossing kan nie ongedaan gemaak word nie. Ewige lewe kan nie verloor word en nog steeds as ewig beskou word nie. As ‘n Christen redding kan verloor, sou God op Sy Woord moes teruggaan en Sy gedagte verander – twee dinge wat die Skrif sé, God nooit doen nie.

Die mees algemene besware ten opsigte van die geloof dat ‘n Christen nie redding kan verloor nie, is 1) Wat van hulle wat Christene is en aanhou om ‘n sondige lewe te lei? 2) Wat van hulle wat Christene is, maar later geloof verwerp en Christus ontken? Die problem met hierdie twee besware, is die sinsnede “wat Christene is”. Die Bybel verklaar dat ‘n ware Christen nie sal aanhou om sondig te lewe nie (1 Joh 3:6). Die Bybel sê dat enigeen wat van die geloof afstand doen, bewys dat hy nooit regtig ‘n ware Christen was nie (1 Joh 2:19). Daarom is nie een van die besware geldig nie. Christene hou nie aan om sondige lewens te lei nie, hul verwerp ook nie die geloof nie en ontken ook nie vir Christus nie. Sulke handelinge is bewyse dat hul nooit verlostes was nie.

Nee, ‘n Christen kan nie redding verloor nie. Niks kan ‘n Christen van God se liefde skei nie (Rom 8:38-39). Niks kan ‘n Christen uit God se hand ruk nie (Joh 10:28-29). God is gewillig en almagtig om die verlossing wat Hy gegee het, te waarborg en te behou. Judas 24-25, “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde Sy heerlikheid te aanskou. Aan die enigste God, ons Verlosser deur jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Kan ‘n Christen sy redding verloor?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries