settings icon
share icon
Vraag

Waarom is dit belangrik om in Bybelse korrektheid te glo?

Antwoord


Ons lewe in ‘n tyd waar daar ‘n geneigdheid is om skouers op te trek, as na foute verwys word. In plaas daarvan om soos Pilatus te vra, “Wat is waarheid?”, sê die hedendaagse mens, “Niks is waar nie” of dalk “Daar is waarheid, maar ons weet dit nie.” Ons het algaande daaraan gewoond geraak, om die leuen te aanvaar en baie mense aanvaar gemaklik die onware opmerking dat die Bybel ook foute bevat.

Die dogma van Bybelse foutloosheid is ‘n uiters belangrike een, omdat die waarheid saak maak. Hierdie kwessie reflekteer op God se karakter en is van fundamentele belang, rakende alles wat die Bybel ons leer. Hier volg ‘n paar redes waarom ons absoluut in Bybelse korrektheid moet glo:

1. Die Bybel self maak daarop aanspraak dat dit volmaak is. “Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is” (Ps 12:7). “Die woord van die Here is volmaak” (Ps 19:8). “Elke belofte van God is betroubaar” (Spreuke 30:5). Hierdie bewerings van suiwerheid en volmaaktheid is absolute stellings. Let daarop dat dit nie sê dat God se Woord “feitlik” suiwer of dat dit wat geskryf is”redelik” perfek is nie. Die Bybel argumenteer vir volkome perfeksie en geen leemte word gelaat vir “gedeeltelike perfeksie” teorieë nie.

2. Die Bybel hou stand of val as ‘n geheel. As ‘n belangrike koerant gereeld foute bevat, sal dit gou in diskrediet kom. Dit sal geen verskil maak om te sê, “Alle foute is beperk tot bladsy drie” nie. Vir ‘n koerant om in alle dele betroubaar te wees, moet dit regdeur feitelik korrek wees. Dieselfde geld vir die Bybel. As die Bybel nie akkuraat praat oor geologie nie, hoe kan die teologie deel dan vertrou word? Dit is slegs ‘n betroubare dokument óf dit is nie.

3. Die Bybel is ‘n refleksie van sy Outeur, soos alle ander boeke. Die Bybel is deur God self geskryf, soos Hy deur menslike skrywers gewerk het, deur middel van ‘n proses van “inspirasie.” “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Tim 3:16). Lees ook 2 Pet 1:21 en Jer 1:2. Ons glo dat God wat die heelal geskep het, die vermoë het om ‘n boek te skryf en die God wat volmaak is, het die vermoë om ‘n volmaakte boek te skryf. Die vraag is nie doodgewoon “Is daar foute in die Bybel?” nie, maar “Kan God ‘n fout maak?”. As die Bybel feitelike foute bevat, dan is God nie alwetend nie en dan is Hy in staat om self foute te maak. As die Bybel verkeerde inligting bevat, dan is God nie betroubaar nie, maar eerder ‘n leuenaar. As die Bybel teenstrydighede bevat, dan is God die outeur van verwarring. Met ander woorde, as Bybelse korrektheid nie waar is nie, dan is God nie God nie.

4. Die Bybel beoordeel óns, nie andersom nie. “Die Woord van God is lewendig en kragtig. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Hebr 4:12). Let op die verhouding tussen “die hart” en “die Woord”. Die Woord ondersoek; die hart wórd ondersoek. Om dele van die Woord, om watter rede ookal, te weerspreek, draai hierdie proses om. Ons word die ondersoekers en die Woord moet hom aan ons “verhewe insig “onderwerp. God sê egter, “Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer?” (Rom 9:20).

5. Die boodskap van die Bybel moet as ‘n geheel gesien word. Dit is nie ‘n mengsel van dogma, waaruit ons vryelik kan kies nie. Baie mense hou van die gedeeltes wat sê dat God hulle liefhet, maar die verse wat sê dat God sondaars sal straf, hou hul nie van nie. Ons kan egter nie kies waarvan ons in die Bybel hou en die res verwerp nie. As die Bybel verkeerd sou wees oor die hel, byvoorbeeld, wie kan dan sê dat dit reg is oor die hemel – of oor enigiets anders? As die Bybel nie die besonderhede oor die skepping kan reg weergee nie, dan is die inligting oor redding dalk ook onbetroubaar. As Jona se storie ‘n mite is, dan is Jesus se se storie mos dieselfde. Inteendeel, God het gesê wat Hy gesê het en die Bybel bied aan ons ‘n volledige prent van wie God is. “U Woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel” (Ps 119:89).

6. Die Bybel is ons enigste maatstaf vir geloof en praktyk. As dit nie betroubaar is nie, waarop vestig ons dan ons geloof? Jesus vra dat ons in Hom moet glo en dit sluit geloof in, in wat Hy in Sy Woord sê. Joh 6:67-69 is ‘n baie mooi gedeelte. Jesus het so pas beleef dat baie van Sy volgelinge Hom verlaat het en toe het Hy na Sy dissipels gedraai en gevra, “Wil julle nie ook weggaan nie?” Hierop het Petrus namens die res geantwoord, “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.” Mag ons dieselfde geloof in die Here en in Sy woorde van lewe hê.

Niks wat ons hier bespreek het, moet gesien word as ‘n verwerping van ware kennis nie. Bybelse foutloosheid beteken nie dat ons moet ophou om ons verstand te gebruik of blindelings moet aanvaar wat die Bybel sê nie. Ons word bevel om die Woord te bestudeer (2 Tim 2:15) en hulle wat dit ondersoek, word aanbeveel (Hand 17:11). Ons erken ook dat daar moeilike gedeeltes in die Bybel is, sowel as ernstige verskille oor sekere interpretasies. Ons doel is om die Skrif met eerbied en in gebed te benader en as ons iets wat ons nie verstaan nie, vind, dat ons harder moet bid en dit moet bestudeer. As die antwoord nog steeds vir ons onduidelik is, ons dan in nederigheid ons eie beperkinge in die aangesig van die volmaakte Woord van God moet erken.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom is dit belangrik om in Bybelse korrektheid te glo?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries