settings icon
share icon
Vraag

Is die Bybel waarlik God se Woord?

Antwoord


Die antwoord op hierdie vraag bepaal nie net hoe ons die Bybel en die belangrikheid daarvan op ons lewens beskou nie, maar dit sal ’n impak op ons hê wat vir ewig sal duur. As die Bybel waarlik God se Woord is, moet ons dit waardeer, bestudeer, gehoorsaam en ook vertroue daarin hê. As die Bybel God se woord is en ons veronagsaam dit, dan veronagsaam ons ook vir God.

Die feit dat God die Bybel aan ons gegee het, is ’n bewys en illustrasie van Sy liefde vir ons. Die woord “openbaring” beteken dat God aan die mens vertel het wat Sy aard is en hoe ons die regte verhouding met Hom kan hê. Dit is dinge wat ons nie sou geweet het as God dit nie in die Bybel geopenbaar het nie. Alhoewel God se openbaring van Homself in die Bybel geleidelik oor ongeveer 1500 jaar plaasgevind het, het dit nog altyd alles bevat wat die mens nodig het om die regte verhouding met Hom te hê. As die Bybel waarlik God se woord is dan het dit die finale seggenskap oor sake van geloof, godsdienstige praktyke en sedes.

Die vraag wat ons onsself moet afvra, is hoe ons kan weet dat die Bybel God se Woord is en nie maar net ’n goeie boek nie? Wat maak die Bybel anders as alle ander godsdienstige boeke wat al geskryf is? Is daar enige bewyse dat die Bybel waarlik God se Woord is? Hierdie is die soort vrae waarna ons moet kyk wanneer ons ondersoek instel na die Bybelse stelling dat die Bybel die ware Woord van God is, goddelik geïnspireerd en heeltemal voldoende is vir alle kwessies omtrent geloof en gebruike.

Daar is geen twyfel omtrent die feit dat die Bybel verklaar dat dit Woord van God is nie. Dit kan baie duidelik gesien word in gedeeltes soos, 2 Timoteus 3:15-17, “Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou. Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te werk.”

Om hierdie vrae te antwoord, moet ons na beide interne en eksterne bewyse dat die Bybel God se Woord is, kyk. Die interne bewyse is dinge van die Bybel self wat wys na die goddelike oorsprong daarvan. Een van die eerste interne bewyse dat Bybel werklik God se Woord is, is die eenheid wat dit vorm. Alhoewel dit bestaan uit ses-en-sestig individuele boeke, geskryf op drie kontinente, in drie verskillende tale, oor ’n periode van ongeveer 1500 jaar, deur meer as 40 skrywers (uit alle vlakke van die samelewing), het die Bybel as geheel ’n eenheid gevorm. Hierdie eenheid maak dit uniek onder alle ander boeke en dit is ’n bewys van die goddelike oorsprong van die woorde – God se woorde wat net so neergeskryf is deur Sy werking in mense.

Nog ’n interne bewys dat die Bybel God se Woord is, is in die profesieë wat beskryf word in die Bybel. Honderde profesieë beskryf in detail die toekoms van individuele nasies, Israel ingesluit, die toekoms van sekere stede, die toekoms van die mensdom en die koms van iemand wat die Messias sal wees - die Redder van Israel asook almal wat in Hom glo. Anders as die profesieë in ander godsdienstige boeke of dié van Nostradamus, is die profesieë in die Bybel baie gedetailleerd en het nog altyd waar geword. In die Ou Testament alleen is daar meer as driehonderd profesieë oor Jesus Christus. In profesieë is daar nie net geprofeteer oor waar Hy gebore sou word nie en van watter familie Hy sou kom nie, maar ook hoe Hy sou sterf en weer op die derde dag sou opstaan. Daar is eenvoudig geen logiese verduideliking vir hierdie vervulde profesieë nie, anders as dat dit van goddelike oorsprong is nie. Daar is geen ander godsdienstige boek wat dieselfde omvang of tipe voorspellende profesieë as die Bybel het nie.

’n Derde interne bewys van die goddelike oorsprong van die Bybel word gesien in die unieke gesaghebbendheid en almag daarvan. Hierdie bewys is meer subjektief as die eerste twee interne bewyse, maar dit is steeds ’n baie kragtige getuienis van die goddelike oorsprong van die Bybel. Die Bybel het die unieke gesaghebbendheid aangesien dit anders is as enige ander boek wat ooit geskryf is. Hierdie gesaghebbendheid en almag word die beste gesien in die tallose aantal mense se lewens wat verander is deurdat hulle die Bybel gelees het. Dwelmverslaafdes is genees daardeur, homoseksuele is vrygemaak daardeur, boemelaars se lewe is heeltemal verander daardeur, geharde kriminele het tot inkeer gekom daardeur, sondaars word berispe daardeur en haat word in liefde verander deur die lees van die Bybel. Die Bybel het ’n dinamiese en hervormingsmag wat slegs moontlik is, omdat dit God se Woord is.

Behalwe vir die interne bewyse dat die Bybel die ware Woord van God is, is daar ook eksterne bewyse daarvoor. Een daarvan is die historiese aard van die Bybel. Die Bybel beskryf historiese gebeure in detail en daarom word die waarheid en akkuraatheid daarvan bevraagteken net soos enige historiese dokument. Beide argeologiese bewyse en ander geskrifte het keer op keer bewys dat historiese gebeure in die Bybel akkuraat en waar is. Met al die argeologiese bewyse en geskrewe dokumente wat die Bybel ondersteun, is dit die beste gedokumenteerde boek van die antieke wêreld. Die feit dat die Bybel verifieerbare historiese gebeure akkuraat en eerlik beskryf, is ’n aanduiding van die waarheid van godsdienstige onderwerpe en doktrines. Dit help ook om die aanspraak dat dit die presiese Woord van God is, te staaf.

Nog ’n eksterne bewys dat die Bybel God se Woord is, word gevind in die integriteit van die menslike outeurs. Soos reeds genoem het God mense uit alle vlakke van die samelewing gebruik om sy Woorde neer te skryf. Wanneer die lewens van hierdie mense van nader bekyk word, kan geen aanduidings gevind word wat daarop dui dat hulle oneerlik en nie opreg was nie. Hierdie beskouing van hulle lewens en die feit dat hulle bereid was om te sterf (soms op baie wrede maniere) vir wat hulle geglo het, maak dit baie duidelik dat hierdie gewone, maar eerlike mense waarlik geglo het dat God met hulle gepraat het. Die skrywers van die Nuwe Testament en honderde ander gelowiges (1 Korinthiërs 15:6) het geweet hulle boodskap is waar omdat hulle vir Jesus gesien het en tyd saam met Hom deurgebring het na sy opstanding. Die transformasie van hierdie mense nadat hulle die opgestane Jesus gesien het, het ’n geweldige impak gehad. Waar hulle altyd in vrees weggekruip het, was hulle nou bereid om te sterf vir die boodskap wat God aan hulle bekend gemaak het. Hulle lewe en dood dien as bewys dat Bybel waarlik God se Woord is.

’n Finale eksterne bewys dat die Bybel waarlik God se Woord is, is die onvernietigbaarheid van die Bybel. Omdat dit so belangrik is en beweer dat dit die woord van God is, het die Bybel, meer as enige ander boek in die geskiedenis, al tallose aanvalle en pogings om dit te vernietig beleef. Die Bybel het al die aanvallers weerstaan en oorleef, vanaf vroeë Romeinse Keisers, soos Diocletianus, deur kommunistiese diktators, tot by hedendaagse ateïste en agnostikusse – dit is nog steeds die mees wydverspreide publikasie in die wêreld.

Skeptici het nog altyd die Bybel as mitologies beskou, maar argeologie het bewys dat dit histories is. Teenstanders beweer dat dit wat die Bybel leer, primitief en oudtyds is, maar die sedelike en wetlike konsepte en leringe daarvan het ’n positiewe invloed op samelewings en kulture reg oor die wêreld. Ten spyte daarvan dat dit voortdurend deur die wetenskap, sielkunde en politieke bewegings aangeval word, bly die Bybel vandag nog net so waar en toepaslik soos toe dit oorspronklik geskryf is. Dit is ’n boek wat tallose lewens en kulture deur die laaste 2000 jaar verander het. Die mag, geloofwaardigheid en toepaslikheid van die Bybel is geensins verander deur aanvalle daarop en pogings om dit of die geloofwaardigheid daarvan te vernietig nie. Die akkuraatheid wat behoue gebly het ten spyte van elke aanval daarop, is ’n duidelike bewys van die feit dat die Bybel waarlik God se Woord is. Dit behoort geen verrassing te wees dat die Bybel telkens, onveranderd en ongeskonde, hierdie aanvalle oorleef nie. Jesus het mos gesê, “Daar sal ’n tyd kom wanneer die hemel en die aarde nie meer daar is nie. Maar daar sal nooit ’n tyd kom wanneer my woorde nie meer waar sal wees nie” (Markus 13:31). Wanneer jy na al dié bewyse kyk, kan jy sonder twyfel sê, “Ja, die Bybel is waarlik God se Woord.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is die Bybel waarlik God se Woord?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries